Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 20:10-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

10. Toe gaan Sha’ul ondertoe en val op hom en slaan sy arms om hom en sê: “Moenie verontrus wees nie, want sy gees is in hom.”

11. Hy het toe boontoe gegaan, brood gebreek en geëet en nadat hy nog ’n geruime tyd gepraat het; tot dagbreek toe; het hy vertrek.

12. Hulle het die seun lewend huis toe geneem en hulle saam met hom verheug,

13. maar ons het vooruit op die skip gegaan en afgevaar na Assos, waar ons van plan was om Sha’ul aan boord te neem, want so het hy dit beplan omdat hy self te voet wou gaan.

14. Toe hy ons dan in Assos ontmoet, het ons hom aan boord geneem en by Mitulene gekom.

15. Die volgende dag het ons van daar af weggevaar en teenoor Gios gekom en die dag daarna na Samos oorgevaar en in Trogullion oorgebly en die dag daarop by Miletos gekom,

16. want Sha’ul het besluit om by Efesos verby te vaar sodat hy nie in Asië tyd sou spandeer nie, want hy het gou gemaak om, as dit vir hom moontlik was, die ‘Fees van Weke’ (Shavu’ot) in Yerushalayim te vier.

17. Hy het van Miletos af na Efesos gestuur en die oudstes van die gemeente laat roep.

18. Toe hulle by hom kom, sê hy vir hulle: “Julle weet self hoe ek, van die eerste dag dat ek in Asië aangekom het, die hele tyd by julle was

19. as slaaf vir God, met alle nederigheid, baie trane en toetse wat oor my gekom het deur die samewerings van die Jode.

20. Ek het niks, wat goed vir julle gees is, nagelaat om aan julle te verkondig en julle te leer in die openbaar en in julle huise, nie,

21. terwyl ek teenoor die Jode, sowel as die Arameërs, getuig het om terug te draai huis toe: wat in die Teenwoordigheid van God is en na vertroue: wat in ons Meester, Yeshua, Die Gesalfde Een is.

22. Nou gaan ek gebind deur die Gees na Yerushalayim en wat my daar sal oorkom, weet ek nie,

23. behalwe dat die Gees van Afsondering in elke stad getuig en sê dat kettings en vervolging vir my voorberei word.

24. Ek beskou nie my lewe vir myself as iets nie sodat ek my wedloop en die dienswerk wat ek van ons Meester Yeshua ontvang het, om te getuig van die goeie boodskap van die onverdiende guns van God, kan voltooi.

25. Nou weet ek dat niemand van julle onder wie ek rondgegaan en die Koninkryk verkondig het, my gesig weer sal sien nie;Yeg 3:18,19; Yeg 33:6,7

26. daarom getuig ek teenoor julle vandag dat ek skoon is van elkeen van julle se bloed,

27. want ek het nie nagelaat om aan julle die hele wil van God te wys nie.

28. Gee dan aandag aan julleself en aan die hele kudde waaroor die Gees van Afsondering julle as opsieners aangestel het om as herders die gemeente van God te versorg, wat Hy met Sy bloed gekoop het.

29. Ek weet dat ná my vertrek, kragtige wolwe onder julle sal inkom wat geen omgee vir die kudde het nie.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 20