Ou Testament

Nuwe Testament

Handelinge 16:1-15 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Hy het ook in Derbe en Lustra gekom waar ’n studentevolgeling met die naam van Timotheos was, die seun van ’n Joodse vrou, wat vertrou het en sy vader was ’n Arameër.

2. Al die studentevolgelinge vanaf Lustra en Ikonion het van hom getuig.

3. Sha’ul wou hê dat hy saam met hom moes gaan en hy het hom gevat en besny ter wille van die Jode wat in daardie streke was, want hulle het almal geweet dat sy vader ’n Arameër was.

4. Op hulle reis deur die stede het hulle die boodskap verkondig en geleer dat hulle die opdragte wat deur die afgevaardigdes en die oudstes in Yerushalayim vasgestel is, moet gehoorsaam.

5. Hierdeur is die gemeentes versterk in vertroue en hulle het elke dag vermeerder in getal.

6. Hulle het deur die streke van Frugia en Galatikos gegaan en die Gees van Afsondering het hulle verbied om in Asië die boodskap te verkondig.

7. Toe hulle by Musia kom, wou hulle na Bithunia gaan, maar die Gees van Yeshua het hulle nie toegelaat nie.

8. Toe hulle van Musia af weggaan, het hulle na die Troas-streek afgegaan.

9. Deur ’n visioen in die nag het daar ’n Makedoniër by Sha’ul gestaan wat hom smeek en sê: “Kom na Makedonia en help ons!”

10. Toe Sha’ul die visioen gesien het, het ons dadelik beplan om na Makedonia te gaan omdat ons oortuig was dat ons Meester ons geroep het om die goeie boodskap aan hulle te verkondig.

11. Ons het vertrek vanaf Troas reguit na Samothrake en die volgende dag by Neapolis gekom

12. en daarvandaan na Filippi, wat die belangrikste stad van daardie deel van Makedonia, ’n Romeinse kolonie, was. Ons het in hierdie stad ’n paar dae deurgebring

13. en op die Shabbat het ons uitgegaan, buitekant die stad, langs ’n rivier, na waar ons ’n huis van gebed gesien het en ons het gaan sit en met die vroue gepraat wat daar bymekaargekom het.

14. ’n Sekere vrou met die naam van Ludia, ’n verkoopster van fyn purper van die stad Thuateira, ’n vrou wat God aanbid, het geluister; die Meester het haar verstand, wil en emosie oopgemaak om te reageer op wat Sha’ul gesê het.

15. Nadat sy en die kinders van haar huis gedoop is, het sy by ons aangedring en gesê: “As u oortuig is daarvan dat ek in ons Meester vertrou, kom dan in my huis en bly daar.” Sy het ernstig by ons aangedring.

Lees volledige hoofstuk Handelinge 16