Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5:1-12 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Staan daarom vas in die vryheid waarmee Die Gesalfde Een ons vrygemaak het en moenie weer in die juk van slawerny gejuk word nie.

2. Let op, ek, Sha’ul, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Die Gesalfde Een vir julle geen voordeel inhou nie

3. en ek getuig dit weer aan elke mens wat besny is dat hy verskuldig is om die hele geskrewe wet na te kom.

4. As jy onskuldig verklaar wil word deur die wet, is jy afgesny van Die Gesalfde Een. Julle het weggeval van die onverdiende guns af,

5. want ons, deur die seëning van die Gees, wat deur vertroue is, bly in die aktiewe verwagting tot onpartydige opregtheid,

6. want in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua, is nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige iets, maar vertroue wat deur liefde volmaak gemaak is.

7. Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te gehoorsaam?

8. Julle oortuiging is nie vanaf Hom wat julle geroep het nie.

9. ’n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur.

10. Ek vertrou dat, in eenheid met die Meester, julle nie ander dinge sal oorweeg nie, maar een wat dit vir julle moeilik maak, wie dit ook al mag wees, sal die oordeel dra.

11. Ek, my broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruisiging tog vernietig!

12. Ek wens dat dié wat julle moeilikheid gee, afgesny sal word,

Lees volledige hoofstuk Galasiërs 5