hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4
  5. 5
  6. 6

Ou Testament

Nuwe Testament

Galasiërs 5 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

1. Staan daarom vas in die vryheid waarmee Die Gesalfde Een ons vrygemaak het en moenie weer in die juk van slawerny gejuk word nie.

2. Let op, ek, Sha’ul, sê vir julle dat as julle jul laat besny, Die Gesalfde Een vir julle geen voordeel inhou nie

3. en ek getuig dit weer aan elke mens wat besny is dat hy verskuldig is om die hele geskrewe wet na te kom.

4. As jy onskuldig verklaar wil word deur die wet, is jy afgesny van Die Gesalfde Een. Julle het weggeval van die onverdiende guns af,

5. want ons, deur die seëning van die Gees, wat deur vertroue is, bly in die aktiewe verwagting tot onpartydige opregtheid,

6. want in eenheid met Die Gesalfde Een, Yeshua, is nòg die besnydenis nòg die onbesnedenheid enige iets, maar vertroue wat deur liefde volmaak gemaak is.

7. Julle het goed gehardloop. Wie het julle verhinder om die waarheid te gehoorsaam?

8. Julle oortuiging is nie vanaf Hom wat julle geroep het nie.

9. ’n Bietjie suurdeeg maak al die deeg suur.

10. Ek vertrou dat, in eenheid met die Meester, julle nie ander dinge sal oorweeg nie, maar een wat dit vir julle moeilik maak, wie dit ook al mag wees, sal die oordeel dra.

11. Ek, my broers, as ek steeds die besnydenis verkondig, waarom word ek nog vervolg? Dan is die struikelblok van die kruisiging tog vernietig!

12. Ek wens dat dié wat julle moeilikheid gee, afgesny sal word,

13. want julle is tot vryheid geroep, my broers; moet net nie dat julle vryheid geleentheid vir die vleeslike natuur is nie, maar julle behoort mekaar deur liefde te dien,Lev 19:18

14. want die hele geskrewe wet word deur een boodskap volledig gemaak: “Jy moet jou medemens liefhê net soos jouself,”

15. maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie mekaar verslind nie.

16. Ek sê: “Leef deur die Gees, dan sal julle nooit deur die begeertes van die menslike natuur gevang word nie,

17. want die menslike natuur begeer die teenoorgestelde as die Gees en die Gees die teenoorgestelde as die menslike natuur. Hulle staan teenoor mekaar sodat julle nie kan doen wat julle wil doen nie,

18. maar as julle deur die Gees gelei word, is julle nie onder die wet nie,

19. maar julle ken die dade van die menslike natuur; dit is: seksuele oortredings, onreinheid, wellustigheid,

20. aanbidding van afgode, towery, vyandskap, tweedrag, jaloesie, woede, hardkoppigheid, misleiding, valse leringe,

21. afguns, moord, dronkenskap, orgies en soortgelyke dinge en dat die wat hierdie dinge doen, soos ek vroeër gesê het en nou weer sê, nie die Koninkryk van God sal erf nie.”

22. Die vrugte van die Gees is liefde, blydskap, vrede, geduld, sagte omgee, goedheid, vertroue,

23. nederigheid en selfbeheersing. Teen sulke dinge is geen wet in plek nie,

24. maar dié wat aan Die Gesalfde Een behoort, het die menslike natuur met al sy passies en begeertes gekruisig.

25. Ons moet daarom in die Gees leef en aan die Gees oorgee

26. en laat ons nie sonder lof en eer wees nie; mekaar slegmaak en jaloers wees op mekaar nie.