Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 10:14-26 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

14. Om hierdie rede, julle vir wie ek lief is, vlug weg van die diens aan afgode.

15. Ek praat soos met intelligente mense; beoordeel self wat ek sê:

16. Die beker van danksegging wat ons oor bid, is dit nie deelname aan die Teenwoordigheid van die bloed van Die Gesalfde Een nie? Die brood wat ons breek, is dit nie deelname aan die Teenwoordigheid van die liggaam van Die Gesalfde Een nie?

17. Net soos dit een brood is, is ons almal een liggaam, want ons deel almal aan die een brood.

18. Let op na die fisiese Yisra’el: het hulle wat die offers eet, nie deel aan die altaar nie?

19. Wat sê ek dus? Dat ’n afgod enige iets is, of dat ’n afgodsoffer enige iets is? Nee!

20. Dit wat die mense offer, offer hulle aan demone en nie aan God nie en ek wil nie hê dat julle deel moet kry aan demone nie.

21. Julle kan nie die beker van ons Meester drink en die beker van demone nie. Julle kan nie deel hê aan die tafel van ons Meester en aan die tafel van demone nie.

22. Of wil ons die jaloesie van ons Meester opwek? Is ons sterker as Hy?

23. “Alles is vir my geoorloof,” maar nie alles is voordelig nie; “alles is vir my geoorloof,” maar nie alles bou óp nie.

24. Niemand moet sy eie belange soek nie, maar óók die belange van sy naaste.

25. Jy mag alles eet wat in die slaghuis verkoop word sonder navraag, ter wille van die gewete,

26. want die aarde behoort aan יהוה en alles wat dit vol maak.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 10