Ou Testament

Nuwe Testament

1 Korinthiërs 1:18-29 Die Pad van Waarheid tot die Lewe (PWL)

18. want die boodskap van die kruis is dwaasheid vir die wat besig is om vernietig te word, maar vir ons wat lewe het, is dit die krag van God,Yes 29:14

19. want daar is geskrywe: “Ek sal die wysheid van die wyses vernietig en die opinies van die slimmes wegvat.”

20. Waar is die wyse? Waar is die leraar van die wet? Waar is die debatteerder van hierdie wêreld? Let op, het God nie die wysheid van hierdie wêreld as dwaas bewys nie?

21. Aangesien God deur Sy wysheid bepaal het dat die wêreld God nie sal ken deur sy eie wysheid nie, het God dit goedgedink om deur die dwaasheid van die verkondiging, aan die wat vertrou, lewe te gee.

22. Omdat die Jode ’n teken vra en die Arameërs wysheid soek,

23. verkondig ons Die Gesalfde Een wat gekruisig is, ’n verleentheid vir die Jode en dwaasheid vir die Arameërs,

24. maar vir die wat geroep is, Jode sowel as Arameërs, is Hy Die Gesalfde Een, die Krag en Wysheid van God,

25. want wat dwaas is by God, is wyser as die mens en wat swak is by God, is sterker as die mens.

26. Kyk na julle eie roeping, my broers: nie baie onder julle is wys na die vlees nie; nie baie onder julle is sterk nie; nie baie onder julle is uit ’n hoë familie nie,

27. maar wat dwaas is by die wêreld, het God gekies om die wyse te beskaam en wat swak is by die wêreld, het God gekies om die wat sterk is, te beskaam

28. en wat van ’n lae stand is by die wêreld en verag is, het God gekies en wat niks is nie, om wat iets is, waardeloos te maak

29. sodat niemand voor Hom sou roem nie.

Lees volledige hoofstuk 1 Korinthiërs 1