Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 29:6-17 Die Boodskap (DB)

6. ’n Slegte mens se verkeerde dade is soos ’n gat waarin hy self val. ’n Gelowige is ’n gelukkige mens. Hy sing van vreugde.

7. ’n Gelowige weet dat hy ’n arm mens moet help. ’n Slegte mens steur hom nie aan die armes nie. Hy sal hulle nooit help nie.

8. Dom mense sweep maklik ’n groep op. Wyse mense weet hoe om die woede te laat bedaar.

9. Dis nie die moeite werd om met ’n dom mens te argumenteer nie. Hy lag jou net uit. Daar kom nie rus nie.

10. Mense wat ander graag seermaak, hou niks van gelowiges nie. Vir hulle wat die Here ken, is die lewe wonderlik.

11. ’n Dom mens verloor oral en altyd sy humeur. ’n Wyse beheer homself.

12. As die land se president oneerlik is, is die staatsdiens kort voor lank korrup.

13. ’n Arm mens en die een wat hom onderdruk, is albei die handewerk van God. Hy weet wat hulle doen en sê.

14. As ’n regering vir die armes omgee, sal hulle altyd onthou word.

15. Tug en dissipline help ’n kind om reg te leef. Die kind wat aan homself oorgelaat word, is ’n skandemaker.

16. Wanneer slegte mense regeer, heers wanorde en korrupsie. Gelowiges weet dat so ’n regering tot ’n val sal kom.

17. Tug jou kind en hy is jou trots. Dissiplineer hom en hy maak jou gelukkig.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 29