Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 27:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Moenie te seker oor môre en oormôre wees nie, want jy weet nie wat in die toekoms gaan gebeur nie.

2. Moenie jou eie beuel blaas nie. Moenie vir almal vertel hoe goed jy is nie. Laat ander mense dit liewer doen.

3. Daar is iets wat erger is as ’n swaar klip of ’n vrag sand. Dit is om saam met ’n dom mens te bly.

4. Daar is iets wat nog verskrikliker is as ’n vinnige humeur. Dit is ’n jaloesie wat ’n mens verteer.

5. Dit is beter dat iemand jou uit liefde berispe as dat iemand jou liefhet, maar dit nooit wys nie.

6. Harde woorde van ’n goeie vriend is goed bedoel. Oordrewe vriendelikheid van mense van wie jy nie hou nie, is oneg.

7. Iemand wat genoeg geëet het, is vir niks meer lus nie. Vir iemand wat baie honger is, is selfs die slegste kos lekker.

8. Soos ’n voëltjie van sy nes verjaag word en verlore rondvlieg, so is ’n mens wat sy familie en vriende verlaat en eensaam rondswerf.

9. Mooi dinge maak ons bly. Maar ’n goeie vriendskap gee ons moed vir die lewe.

10. Vriendskappe is kosbaar. Moenie jou vriend of jou pa se vriendekring sommer verlaat nie.

11. As jy probleme het, soek hulp by jou buurman. ’n Buurman wat naby is, is beter as ’n broer wat ver woon. ’n Jongmens wat weet hoe om reg te leef maak sy pa en ma gelukkig. Hy is ’n bewys dat hulle opvoeding geslaag het.

12. ’n Slim mens sien probleme ver aankom en hy tref die nodige voorsorg. ’n Dom mens karring net aan en beland in groot ellende.

13. Pas op vir vinnige finansiële transaksies. Sorg dat jy nie aan die kortste ent trek nie. Sorg vir waarborge. Veral as die ander party diep in die skuld is.

14. Iemand wat vroeg in die môre, terwyl almal nog slaap, sy buurman wakker maak om hom te groet is baie dom. Hy het geen gevoel vir die regte ding wat op die regte tyd gedoen moet word nie. Niemand wil iets met hom te doen hê nie.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 27