Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 22:15-29 Die Boodskap (DB)

15. Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede.

16. God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie.

17. Spits jou ore! Luister mooi na die wenke vir ’n wonderlike lewe. Maak alle inligting oor die regte manier van lewe jou eie. Dink daaroor na.

18. As jy dit doen, sal jy gelukkig wees. Jy sal ook weet wat om op die regte oomblik te sê.

19. Al die spreuke moet jou help om die Here nog beter te ken en te vertrou. Dit is waarom al hierdie woorde van wysheid neergeskryf is.

20. Ja, alles is net vir jou geskryf. Goeie raad vir ’n gelukkige lewe!

21. ’n Groot hulp om tussen waarheid en leuens te onderskei. ’n Wonderlike hulpmiddel om ’n mens met integriteit te wees.

22. Moenie ’n arm mens uitbuit omdat hy weerloos is nie. Moenie die behoeftiges wat om hulp roep, in die grond in trap nie.

23. Onthou, die Here is aan hulle kant. Hy veg vir hulle. En Hy straf almal wat hulle verneder.

24. Pas op vir mense met ’n slegte humeur. Bly uit die pad van ’n wraaksugtige mens.

25. Moet tog nooit soos hulle word of in hulle aaklige strikke beland nie.

26. Dink mooi voordat jy ’n kontrak sluit. Moenie vir ander se skuld borg staan nie. Jy kan in groot skuld beland.

27. As jy nie geld het om te betaal nie, sal jy nog so lekker slaap, dan verkoop hulle jou bed onder jou uit.

28. Moenie aan grensdrade torring nie. Plase se grense is deur die voorgeslagte bepaal. Ander se eiendom moet gerespekteer word.

29. Ken jy ’n goeie vakman wat hard en getrou werk? Hy is by almal in aanvraag. Belangrike mense soek sy dienste. Hy sal dit nog ver bring in die lewe.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 22