Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 22:11-24 Die Boodskap (DB)

11. Die mens wat reg optree en reg praat, sal selfs die regeerder onder sy vriende tel.

12. Die Here sien alles wat ’n wyse en ’n domme sê en doen. Hy help ’n mens om reg te leef. Hy vernietig bose planne.

13. ’n Luiaard oordryf altyd alles. As hy nie lus is vir werk nie, sê hy sommer ’n kwaai leeu wag daar buite. As hy sou uitgaan, sal die leeu hom opvreet.

14. Pas op vir die praatjies van ’n los vrou. Dit is soos ’n put. Voordat jy jou kom kry, het jy daarin geval. So straf die Here ’n mens wat aan haar verleidings toegee.

15. Tug is nodig! As ’n kind toegelaat word om te doen net wat hy wil, loop dinge verkeerd. Dissipline verdryf stoutighede.

16. God help die armes! Veral as mense hulle uitbuit. Wie geld op rykes bestee, moet net gee en gee. Naderhand het hy niks meer oor nie.

17. Spits jou ore! Luister mooi na die wenke vir ’n wonderlike lewe. Maak alle inligting oor die regte manier van lewe jou eie. Dink daaroor na.

18. As jy dit doen, sal jy gelukkig wees. Jy sal ook weet wat om op die regte oomblik te sê.

19. Al die spreuke moet jou help om die Here nog beter te ken en te vertrou. Dit is waarom al hierdie woorde van wysheid neergeskryf is.

20. Ja, alles is net vir jou geskryf. Goeie raad vir ’n gelukkige lewe!

21. ’n Groot hulp om tussen waarheid en leuens te onderskei. ’n Wonderlike hulpmiddel om ’n mens met integriteit te wees.

22. Moenie ’n arm mens uitbuit omdat hy weerloos is nie. Moenie die behoeftiges wat om hulp roep, in die grond in trap nie.

23. Onthou, die Here is aan hulle kant. Hy veg vir hulle. En Hy straf almal wat hulle verneder.

24. Pas op vir mense met ’n slegte humeur. Bly uit die pad van ’n wraaksugtige mens.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 22