Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 14:19-35 Die Boodskap (DB)

19. Slegte mense sal nog eendag die gelowiges se leefwyse bewonder. Hulle sal die gelowige se insig in die lewe begeer.

20. ’n Arme se bure wil niks met hom te doen hê nie. Baie mense wil graag vriende van die rykes wees.

21. ’n Sondaar is iemand wat sy naaste sleg behandel. Iemand wat vir die armes goed is, ervaar onbeskryflike geluk.

22. Wie net slegte dinge dink, raak naderhand die pad heeltemal byster. Diegene wat net goeie dinge wil doen, ontvang baie liefde en ondersteuning.

23. Harde werk het sy voordele. Praatjies bring jou nie ver nie.

24. Blydskap en voorspoed is die kroon op die regte manier van lewe. Domkoppe se manier van leef bring net droefheid en teëspoed.

25. ’n Betroubare getuie kan mense uit groot moeilikheid help. ’n Liegmond verwoes lewens.

26. Wie die Here liefhet, voel veilig. Selfs sy eie kinders word beskerm.

27. Die Here se liefde is soos ’n borrelende fontein. Dit maak van jou ’n sprankelende mens. Dit beskerm jou teen angs en spanning.

28. ’n Leier se krag lê in sy ondersteuners. Sonder ondersteuners beteken hy niks nie.

29. Iemand wat reg leef, is geduldig. ’n Vinnige humeur rig oneindige skade aan.

30. Kalmte en vrede is baie goed vir jou gesondheid. Slegte drange en luste is soos ’n vernietigende siekte.

31. Wie die arme se nood miskyk, beledig die Here. Wie lief en goed is vir ander, eer Hom.

32. Goddeloses leef en sterf sonder hoop. Gelowiges is tot die dood toe veilig in die Here.

33. ’n Gelowige koester wysheid. Dommes dink nie eens daaraan hoe om reg te leef nie.

34. ’n Mooi lewe maak jou gesin, jou familie en jou volk gelukkig. Verkeerde dinge bring hulle in verleentheid.

35. ’n Werkgewer beloon sy werknemer vir goeie diens. Afskeepwerk en bedrog lei tot afdanking en armoede.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 14