Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 13:12-25 Die Boodskap (DB)

12. Drome wat nie waar word nie, bring hartseer. ’n Wens wat waar word, maak die lewe die moeite werd.

13. Wie die Here se woord verwerp, vernietig homself. Wie dit sy eie maak, is ’n gelukkige mens.

14. Mense wat die lewe ken, kan jou baie leer. Hulle lewenswysheid is ’n onuitputlike bron van kennis. Wie dit sy eie maak, word baie ellende gespaar.

15. Lewenswysheid maak dat almal van jou hou. Ongelowiges gaan onder.

16. ’n Slim mens dink voordat hy iets doen. ’n Dom mens weet nie wat hy doen nie. Almal sien en hoor hoe dwaas hy is.

17. ’n Slegte boodskapper vergeet maklik wat hy moet sê. Mense word dan baie kwaad vir hom. ’n Goeie boodskapper se woorde maak mense gelukkig.

18. Wie hom nie steur aan die voorskrifte vir ’n gelukkige lewe nie, word gou arm. Skande op skande is sy lot. Diegene wat na goeie raad luister, word deur ander gerespekteer.

19. Dit is lekker as ons ons ideale bereik. Slegte mense bereik niks nie, want hulle sukkel om hulle verkeerde dade te los.

20. Wie dikwels in die geselskap van gelowiges is, leer self ook met die tyd om reg op te tree. Wie altyd net met ligsinniges en ongelowiges meng se lewe is leeg.

21. Mense wat die Here verwerp se lewe is hel. Gelowiges ervaar intense geluk en voorspoed.

22. Iemand wat verstandig met sy geld werk se kleinkinders sal nog eendag daarvan erf. Selfs goddeloses se geld beland dikwels in die hande van gelowiges.

23. Arm mense se grond lewer genoeg op dat hulle kan eet. Maar as wet en orde nie gehandhaaf word nie, verloor hulle selfs die bietjie wat hulle het.

24. Wie nooit met sy kinders raas nie, het hulle nie werklik lief nie. Iemand wat sy kinders regtig liefhet, sal hulle kortvat as dit nodig is.

25. ’n Gelowige het genoeg om van te leef. Ongelowiges ly gebrek.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 13