Ou Testament

Nuwe Testament

Spreuke 10:24-31-32 Die Boodskap (DB)

24. Iemand wat nie die Here liefhet nie, se lewe is een groot stuk angs. Dit waarvoor hy bang is, word dikwels waar. Maar hulle wat die Here liefhet, se wense word waar.

25. Wanneer die ellende soos ’n storm kom wat alles wil vernietig, kan ’n goddelose dit nie baasraak nie. Hy stort heeltemal in duie. Maar die gelowige kan enige krisis te bowe kom.

26. Soos asyn jou op jou tande laat kners, soos rook jou oë laat brand, so irriterend is ’n luiaard vir sy baas.

27. Liefde vir die Here maak die lewe die moeite werd. Ongelowiges se lewens is kort en vol angs.

28. Dit waarop gelowiges hoop, word waar. Daar kom niks van ongelowiges se hoop nie.

29. Die Here is die gelowige se krag. Sonder Hom is die lewe hel.

30. ’n Gelowige sal altyd sy geloof behou. Ongelowiges sal alles verloor wat hulle het.

31-32. ’n Gelowige se woorde is vol wysheid. Ander mense word daardeur verryk. Goddeloses se geklets beteken niks.

Lees volledige hoofstuk Spreuke 10