Ou Testament

Nuwe Testament

Sagaria 14:9-19 Die Boodskap (DB)

9. Die Here sal koning wees oor die hele wêreld. Daardie dag sal almal weet dat Hy die enigste God is. Sy Naam sal die enigste Naam wees wat genoem word.

10. Die hele gebied rondom Jerusalem sal oop en uitgestrek lê. Na die noorde toe sal dit lê tot by Geba en na die suide tot so ver as Rimmon. In die middel van hierdie gebied sal Jerusalem hoog uitstaan soos vroeër. Die stad sal lê van die Benjaminingang af tot by die plek waar die ou hek was. Dan verder tot by die Hoekingang en van die Gananeltoring tot by die plek waar die koning se wyn gemaak word.

11. Die mense sal in Jerusalem kom bly en veilig voel, want die stad sal nie weer verwoes word nie.

12. Die Here sal ’n verskriklike siekte laat uitbreek onder al die nasies wat teen Jerusalem baklei het. Hulle liggame sal begin vrot terwyl hulle nog leef. Dieselfde sal gebeur met hulle oë en hulle tonge.

13. In dié tyd sal die Here ’n vreeslike angs die mense laat beetpak. In die deurmekaarspul sal hulle mekaar gryp en mekaar slaan.

14. Selfs die mense van Juda sal by Jerusalem teen die vyand baklei. Die rykdom van die volke in die omgewing sal afgevat word. Op dié manier sal groot hoeveelhede goud, silwer en klere bymekaargebring word.

15. Dieselfde vreeslike siekte wat die mense oorgekom het, sal ook die perde, muile, kamele, donkies en watter ander diere daar ook al in die vyand se kampe is, besmet.

16. Wat na alles sal gebeur, is dat die vyande van Jerusalem wat nie van die siekteplaag dood is nie, elke jaar na die stad toe sal terugkom. Wanneer hulle kom, sal dit wees om eer te kom bewys aan die Koning, die Here wat sterker as almal en alles is. Hulle sal ook kom om die fees te vier waar daar altyd hutte van takke gebou word.

17. As daar enige volk êrens op aarde is wat nie na Jerusalem toe wil kom om die Here, die Koning, te kom vereer nie, sal dit nie by hulle reën nie.

18. En as die mense van Egipte nie na die fees toe wil kom nie, sal die Here hulle straf. Dieselfde vreeslike siekte sal hulle aantas wat ander nasies getref het wat geweier het om Hom te kom dien.

19. Die mense van Egipte sal saam met die ander volke gestraf word as hulle nie die fees van die hutte wil kom vier nie.

Lees volledige hoofstuk Sagaria 14