Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 9:6-18 Die Boodskap (DB)

6. Toe het al die inwoners van Sigem en Bet-Millo bymekaargekom by die groot eikeboom langs die klippilaar wat hulle aanbid het. Daar het hulle toe vir Abimelek as koning gekroon.

7. Toe Jotam hiervan te hore kom, het hy op die berg Gerisim geklim en hard vir hulle geskree: “Luister na my, mense van Sigem, dan sal God dalk na julle luister!

8. Op ’n keer het die bome bymekaargekom om vir hulle ’n koning te kies. Hulle het vir die olyfboom gesê: ‘Wees jy ons koning!’

9. Maar die olyfboom het geweier en vir hulle gesê: ‘Moet ek ophou olyfolie produseer, waarmee eer betoon word aan beide gode en mense, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

10. Toe sê hulle vir die vyeboom: ‘Wees jy dan ons koning!’

11. Maar dié sê vir hulle: ‘Moet ek my lekker soet vrugte prysgee om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

12. Toe sê hulle vir die wingerdstok: ‘Wees jy ons koning!’

13. Maar die wingerdstok sê vir hulle: ‘Moet ek my wyn prysgee, wat gode en mense gelukkig maak, net om tussen die bome rond te dwaal en oor hulle te regeer?’

14. Uiteindelik het al die bome na die doringbos toe gedraai en gesê: ‘Wees jy dan ons koning!’

15. Die doringbos het geantwoord: ‘As julle my regtig as julle koning wil kroon, kom staan dan hier in my skaduwee. As julle dit nie wil doen nie, sal daar ’n vuur uit die doringbos uitgaan wat al die seders van die Libanon sal verbrand tot niks.’

16. “Dink julle julle was eerlik en opreg toe julle vir Abimelek koning gemaak het? Het julle Gideon en sy familie reg behandel? Het julle aan my pa die eer bewys wat hom toekom?

17. My pa het ter wille van julle teen die Midianiete gaan veg en sy lewe in gevaar gestel sodat julle vry kon wees.

18. Maar vandag het julle teen hom en sy familie in opstand gekom deur al 70 sy seuns op een klip dood te maak. Toe het julle vir Abimelek, die seun van sy slavin, koning gemaak oor die mense van Sigem, net omdat hy julle familielid is.

Lees volledige hoofstuk Rigters 9