Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 6:30-40 Die Boodskap (DB)

30. Hulle skreeu toe vir Joas: “Bring jou seun daar uit die huis uit! Hy het Baäl se altaar afgebreek en Asjera se paal afgekap. Daarom moet hy doodgemaak word!”

31. Toe sê Joas vir die oproeriges wat daar buite staan: “Wil julle nou skielik Baäl se saak vir hom behartig? Gaan julle hom verdedig? Weet net, wie ook al Baäl se saak probeer verdedig, sal teen môreoggend reeds dood wees. As Baäl ’n god is, laat hy homself verdedig. Dis tog sy altaar wat Gideon afgebreek het!”

32. Hulle het Gideon toe Jerubbaäl genoem, “want,” het hulle gesê, “laat Baäl self sy probleem met Gideon oplos, want dit is mos Gideon wat sy altaar afgebreek het.”

33. Kort daarna het die Midianiete, die Amalekiete en die mense van die ooste ’n samewerkingsooreenkoms met mekaar gesluit. Hulle het oor die Jordaanrivier getrek en kamp opgeslaan in die vlakte van Jisreël.

34. Die Gees van die Here het oor Gideon gekom. Hy het die trompet laat blaas om die Abiësriete vir die oorlog op te roep.

35. Hy het ook boodskappers na die gebiede van Manasse, Aser, Sebulon en Naftali toe gestuur om die soldate van hierdie gebiede op te roep om hom te volg. Hulle het toe na hom toe gekom.

36-37. Toe sê Gideon vir God: “As U my regtig gaan gebruik om Israel te verlos soos U belowe het, bewys dit vir my. Ek sit hierdie stukke wolmat op die dorsvloer neer. As die mat môre nat is van die dou en die grond rondom is droog, sal ek weet dat U my gaan help soos U belowe het.”

38. Dit is presies wat gebeur het. Toe Gideon die volgende môre opstaan en die mat uitdroog, het hy ’n hele skottel vol water uitgedruk.

39. Toe sê Gideon vir God: “Moet asseblief nie vir my kwaad word nie, maar ek wil graag nog een keer ’n guns vra. Kan ek vra dat die mat hierdie keer droog bly en die grond rondom nat van die dou moet wees?”

40. Daardie nag het God gedoen wat Gideon gevra het. Die volgende môre was die mat kurkdroog, maar die grond was nat gedou.

Lees volledige hoofstuk Rigters 6