Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 20:1-13 Die Boodskap (DB)

1. Toe het al die Israeliete van Dan in die noorde tot by Berseba in die suide sowel as van die gebied van Gibea in die ooste in ’n groot vergadering by Mispa bymekaargekom in die teenwoordigheid van die Here.

2. Al die stamme se leiers was by hierdie vergadering van die volk van God teenwoordig. Daar was ook 400 000 soldate met swaarde gewapen.

3. Die boodskap het vinnig by die Benjaminiete uitgekom dat die ander stamme by Mispa bymekaargekom het. Die volk wou weet hoe so ’n ongehoorde ding kon gebeur het.

4. Die Leviet wie se byvrou vermoor is, het vertel: “Ek en my vrou het in Gibea in die gebied van Benjamin aangekom terwyl ons op reis was en besluit om daar te oornag.

5. Die mans van Gibea het in die nag gekom en die huis omsingel waarin ek was. Hulle wou my aanrand. Om die waarheid te sê, hulle wou my doodmaak, maar op die ou end het hulle my byvrou verkrag tot sy dood is.

6. Toe het ek haar liggaam in twaalf stukke opgesny en een stuk aan elke stam van Israel gestuur; hierdie mans het ’n afskuwelike ding onder ons volk gedoen.

7. Nou is ons almal hier, en ons is almal Israeliete. Wat gaan ons hieraan doen?”

8. Die volk het eenparig verklaar: “Nie een van ons, maak nie saak waar jy bly nie, gaan terug huis toe nie.

9. Wat ons wel gaan doen, is om Gibea ’n les te leer. Ons sal lootjies trek om te sien wie dit gaan doen.

10. Ons sal so te werk gaan: een tiende van die mans van elke stam sal gekies word om te sorg dat die soldate genoeg kos het, die res sal Gibea gaan straf vir die vieslike ding wat hulle in Israel gedoen het.”

11. Die volk het saamgestem. Hulle het toe gereedgemaak om die dorp aan te val.

12. Die Israeliete het boodskappers na die stam van Benjamin toe gestuur om vir hulle te vra: “Watse verskriklike dinge vang julle aan?

13. Lewer hierdie spul siek sondaars van Gibea aan ons uit dat ons hulle kan doodmaak en dié bose ding in Israel kan uitroei.” Maar die mense van Benjamin het hulle nie hieraan gesteur nie.

Lees volledige hoofstuk Rigters 20