Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:20-31 Die Boodskap (DB)

20. Die idee het die jong priester aangestaan en hy het die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat en saam met die mense gegaan.

21. Die klomp is toe daar weg met hulle kinders en vee en besittings aan die voorpunt.

22. Toe hulle al ’n hele ent weg was, het Miga sy bure geroep en hulle het die mense van Dan agternagesit.

23. Toe hulle hulle inhaal, het hulle op die mense van Dan begin skree. Dié het omgedraai en vir Miga gevra: “Vir wat gaan jy so te kere?”

24. “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het en boonop my priester ook afgerokkel; ek het net mooi niks oor nie. Dan vra julle nog waarom ek so te kere gaan!”

25. Die mense van Dan het vir hom gesê: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai maak nie. Netnou is hier ’n klompie mense wat besluit om hulle humeur te verloor en dan verloor jy en jou mense dalk julle lewe!”

26. Die mense van Dan het omgedraai en verder getrek. Miga het besef dat hulle baie sterker was as die groep by hom; daarom het hy omgedraai en teruggegaan huis toe.

27. Die mense van Dan is toe met die beelde en die priester na die niksvermoedende mense van Lajis toe. Daar aangekom, het hulle die mense doodgemaak en die stad tot op die grond afgebrand.

28. Niemand kon hulle red nie, aangesien hulle baie ver van Sidon af was en hulle in elk geval nie kontak met die ander volke in die omgewing gehad het nie. Lajis was in die vallei van Bet-Regob geleë. Hierna het die mense van Dan die stad herbou en self daarin gaan woon.

29. Hulle het die stad herdoop na Dan ter ere van hulle stamvader Dan, Jakob se seun.

30. Hulle het die afgodsbeeld daar laat staan, en Gersom se seun Jonatan die kleinseun van Moses, en sy seuns het as hulle priesters opgetree totdat die mense in ballingskap weggevoer is.

31. Miga se afgodsbeeld is daar aanbid vir die volle tydperk wat die tabernakel in Silo bly staan het.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18