Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:2-15 Die Boodskap (DB)

2. Die mense van Dan het vyf dapper mans uit die dorpe Sora en Estaol as hulle verteenwoordigers gestuur om die land te gaan verken. Hulle het toe by Miga se huis in die berge van Efraim aangekom en daar oornag.

3. Hulle het die jong Leviet se aksent herken en vir hom gevra: “ Wie het jou hierheen gebring? Wat doen jy hier? Wat hou jou hier?”

4. Hy het geantwoord: “Ek het ’n ooreenkoms met Miga. Hy betaal my en ek is sy priester.”

5. Hulle sê toe vir hom: “Vra ’n bietjie vir die Here of ons suksesvol gaan wees.”

6. “Gaan gerus voort,” het die priester gesê, “julle het niks om julle oor te bekommer nie, die Here is by julle op julle reis.”

7. Die vyf mans is toe daar weg en het later by Lajis aangekom. Hulle het opgemerk dat die inwoners ’n sorgvrye lewenswyse gehad het, soos die inwoners van Sidon gewoond was om te doen. Hulle was vredeliewende, rustige mense wat nie gedurig met ander volke moeilikheid gesoek het nie. Hulle was ook welvarend. Hulle het ver van die mense van Sidon af gebly en hulle het ook nie met die ander volke in die omgewing in aanraking gekom nie.

8. Toe die vyf mans terug is in Sora en Estaol het hulle mense vir hulle gevra: “En toe, wat het julle gesien?”

9. Hulle antwoord was: “Waarvoor wag julle nog? Kom ons val hulle aan. Ons het die land gesien, dis wonderlik. Ons moet dit dadelik gaan inneem. Moenie nog tyd mors nie!

10. Julle sal sien as julle daar aankom, hierdie mense is houtgerus. Dis ’n wonderlike gebied. Daar is alles wat ’n mens se hart kan begeer, en die Here gee dit vir julle.”

11. Ses honderd swaar gewapende soldate uit die stam van Dan het toe van Sora en Estaol af weggetrek om die land te gaan inneem.

12. Hulle het kamp opgeslaan by Kirjat-Jearim in Juda. Daarom staan die plek net oos van Kirjat-Jearim bekend as die kamp van Dan.

13. Van daar af het hulle verder getrek tot by Miga se huis in die berge van Efraim.

14. Die vyf mans wat vroeër die gebied van Lajis verken het, het vir die ander gesê: “Weet julle dat daar ’n afgodsbeeld en huisgode en nog ’n paar ander beeldjies in hierdie huis is? Ons dink dit is glashelder wat ons behoort te doen.”

15. Hulle het toe afgedraai na Miga se huis toe waar die jong Leviet gebly het en vir hom gevra hoe dit met hom gaan.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18