Ou Testament

Nuwe Testament

Rigters 18:19-27 Die Boodskap (DB)

19. Hulle sê toe vir hom: “Bly liewer stil en kom saam met ons. Jy kan ons leermeester en priester wees. Dit is tog beter om die priester van ’n hele stam van Israel te wees as net vir een man.”

20. Die idee het die jong priester aangestaan en hy het die afgodsbeeld, die huisgode en die ander beeldjies gevat en saam met die mense gegaan.

21. Die klomp is toe daar weg met hulle kinders en vee en besittings aan die voorpunt.

22. Toe hulle al ’n hele ent weg was, het Miga sy bure geroep en hulle het die mense van Dan agternagesit.

23. Toe hulle hulle inhaal, het hulle op die mense van Dan begin skree. Dié het omgedraai en vir Miga gevra: “Vir wat gaan jy so te kere?”

24. “Julle het my gode gevat wat ek gemaak het en boonop my priester ook afgerokkel; ek het net mooi niks oor nie. Dan vra julle nog waarom ek so te kere gaan!”

25. Die mense van Dan het vir hom gesê: “Moenie hier by ons kom staan en lawaai maak nie. Netnou is hier ’n klompie mense wat besluit om hulle humeur te verloor en dan verloor jy en jou mense dalk julle lewe!”

26. Die mense van Dan het omgedraai en verder getrek. Miga het besef dat hulle baie sterker was as die groep by hom; daarom het hy omgedraai en teruggegaan huis toe.

27. Die mense van Dan is toe met die beelde en die priester na die niksvermoedende mense van Lajis toe. Daar aangekom, het hulle die mense doodgemaak en die stad tot op die grond afgebrand.

Lees volledige hoofstuk Rigters 18