Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 35:17-28 Die Boodskap (DB)

17. Here, hoe lank gaan U nog toelaat dat daardie mense my laat swaarkry?Red my kosbare lewe uit die kloue van daardie spul.Hulle is soos ’n klomp honger leeus wat hulle prooi wil opeet.

18. Dan sal ek U prys as al u kinders weer saam is!Tussen die menigte gelowiges sal ek U loof!

19. Moenie dat ander bly wees as ek swaarkry nie.Hulle haat my sonder dat ek iets aan hulle gedoen het.Keer tog dat hulle bly is omdat dit sleg gaan met my.

20. Hulle wil nie in vrede met my leef nie. Hulle vertel lelike dinge oor my.

21. Hulle beskuldig my van goed wat ek nooit gesê of gedoen het nie.

22. Here, U weet tog wat regtig gebeur het!Moenie die saak net so laat nie! Moenie my alleen los nie, Here!

23. Kom verdedig my. Kom op vir my, Here.U is tog my God. Help my.

24. U tree altyd reg op, Here, my God. Tree ook nou regverdig teenoor my op.Moenie dat hulle dit geniet as ek swaarkry nie.

25. Daardie klomp moenie onder mekaar sê: “Goed so, presies net wat ons wou hê, het met hom gebeur” nie.Hulle moenie spog en sê: “Ons het hom tot ’n val gebring” nie.

26. Laat almal wat bly is oor my probleme, tweede kom.Laat hulle self in die ellende beland. Laat hulle skaam en verleë staan.

27. Maak almal wat my wil help se lewe vol vreugde. Laat hulle juig.Hulle moet aanmekaar sê: “Die Here is baie groot!Hy sorg dat elkeen wat Hom dien in vrede leef.”

28. Ek sal ook vir almal van u regverdigheid vertel, Here.Ek sal U heeltyd prys omdat U goed is vir ons.

Lees volledige hoofstuk Psalms 35