Ou Testament

Nuwe Testament

Psalms 18:41-51 Die Boodskap (DB)

41. Dis eintlik U wat my vyande vir my oorwin. U het gesorg dat hulle weghardloop.So kon ek die mense wat nie van my hou nie se mag heeltemal breek.

42. Hulle smeek iemand om hulle te help, maar daar is niemand nie.Nou skielik vra hulle die Here om te help, maar Hy steur Hom nie aan hulle nie.

43. Ek het hulle mag totaal gebreek, soos klip wat ’n mens fynmaal soos stof en in die wind rondstrooi, of soos modder wat jy in die pad gooi vir almal om op te trap. Ek het hulle vertrap.

44. U het my gehelp om uit die kloue te kom van hierdie mense wat net wil baklei.Nou is ek hulle koning en moet hulle na my luister.Mense wat ek eers nie geken het nie, moet my nou dien.

45. As hulle net van my hoor, luister hulle al! Vreemde mense kom bewend nader.Hulle probeer nie eens teen my veg nie.

46. Hulle gooi sommer dadelik die handdoek in. Hulle gee dadelik oor.

47. Die Here leef! Ek wil vir die Here baie dankie sê omdat Hy my so beskerm.Ek wil sy Naam grootmaak omdat Hy my gered het.

48. Hy help my om my vyande op hulle plek te sit. Hy onderwerp volke aan my mag.

49. Hy red my van my vyande. Hulle kan niks aan my doen nie. Ek troon bo elkeen van hulle uit.Mense wat gewelddadig is, kan niks doen nie omdat U my van hulle red.

50. Daarom wil ek U loof en dankie sê voor al die nasies, o Here.Ek wil liedere sing om u Naam groot te maak en U te eer.

51. Die Here help sy koning. Hy maak hom ’n ware oorwinnaar.Hy is baie goed vir die koning wat Hy aangestel het.Hy is goed vir Dawid en al sy kinders, vir altyd en altyd.

Lees volledige hoofstuk Psalms 18