Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 5:1-8 Die Boodskap (DB)

1. Dink mooi voordat jy met die Here praat. Moenie sommer vinnige beloftes aan God maak nie. Onthou, God is baie groot en jy is baie klein. Hy is bo in die hemel en jy is onder op die aarde. Daarom moet jy mooi kyk wat jy sê.

2. Pas op hoe jy oor jou drome praat, want van te veel praat, kom groot probleme. Kort voor lank sê jy verkeerde dinge oor God.

3-4. As jy God iets belowe het, moet jy dit so gou moontlik doen. God hou nie van mense wat los en vas beloftes maak nie. Doen wat jy belowe het.

5. Moenie dat baie praat jou in die moeilikheid bring nie, want dan moet jy weer vir die priester gaan sê jy het dit nie so bedoel nie. Waarom wil jy God met al jou gepraat kwaad maak sodat Hy al jou harde werk vernietig?

6. Pas op vir ydele droompraatjies, want dit maak ’n mens net vol van jouself. Dien God eerder met groot eerbied.

7. Moenie verbaas wees as ’n regering armes onderdruk en daar geen reg en geregtigheid bestaan nie. Die fout lê by korrupte amptenare wat mekaar beskerm.

8. As ’n regeerder in sulke omstandighede ten minste nog die boere help en bystaan, is dit ’n stukkie genade.

Lees volledige hoofstuk Prediker 5