Ou Testament

Nuwe Testament

Prediker 3:10-22 Die Boodskap (DB)

10. God het vir mense ’n baie moeilike werk gegee. Hulle moes probeer om God se werk te verstaan.

11. God het alles mooi en op die regte tyd gemaak. Toe het Hy die mense iets laat verstaan van hoe sy soort tyd werk, maar die mense kon niks daarvan verstaan nie. Absoluut niks nie.

12. Toe het ek besef al wat die mens maar moet doen, is om gelukkig te wees en die lewe te geniet.

13. Om tussen al die harde werk deur nog te kan eet en drink en gelukkig te wees is ’n geskenk uit die hand van God.

14. Ek weet dat alles wat God doen, vir altyd sal bestaan. Niemand sal iets daarby voeg of iets daarvan wegneem nie omdat God te groot en te sterk is.

15. Wat nou bestaan, het vroeër ook reeds bestaan. En wat nog gaan kom, was alreeds daar. God laat dieselfde dinge weer en weer gebeur.

16. Ek het om my rondgekyk. Toe sien ek: waar die regte dinge moes gebeur, was daar net onreg. Niemand het gedoen wat God vra nie.

17. Ek het gedink daar is ’n tyd om te oordeel en ’n tyd om te straf, en dat God mense wat doen wat Hy sê en sondaars billik sal oordeel.

18. Maar dit sal ongelukkig nie gebeur nie, want volgens God is ons niks beter as ’n dier nie.

19. Wat met ’n mens gebeur, gebeur ook met ’n dier. Die een gaan net soos die ander dood. Albei het dieselfde asem. Die mens is nie beter as die dier nie. Die lewe is regtig sinloos.

20. ’n Dooie mens en ’n dooie dier gaan na dieselfde plek toe terug. En dit is die stof waaruit albei gemaak is.

21. Wie weet of die mens se asem opstyg en of die dier s’n in die aarde in wegsink?

22. Die lewe het my geleer dat die mens dit waarmee hy hom elke dag besig hou, maar moet geniet. Hy kan eintlik nie iets anders nie, want niemand weet wat hierna in die dood gaan gebeur nie.

Lees volledige hoofstuk Prediker 3