Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 7:6-84 Die Boodskap (DB)

6. Moses het toe die waens en die osse vir die Leviete gegee.

7. Hy het vir die Gersongroep twee waens en vier osse gegee

8. en vir die Merarigroep vier waens en agt osse om vir hulle werk te gebruik. Hulle het hulle werk onder die toesig van Itamar, Aäron se seun, gedoen.

9. Moses het nie vir die Kehatgroep enige waens en osse gegee nie omdat hulle volgens die Here se opdrag die heilige voorwerpe op hulle skouers moes dra.

10. Die leiers het ook ander offers gebring toe die offeraltaar in gebruik geneem is.

11. Die Here het vir Moses beveel om hulle die offers op verskillende dae na die altaar toe te laat bring.

12-83. Op die eerste dag het Amminadab se seun Nagson, uit die stam Juda, sy offer gebring; op die tweede dag Suar, die leier van Issaskar se seun Netanel; op die derde dag Gelon, die leier van Sebulon se seun Eliab; op die vierde dag Sedeür, die leier van Ruben se seun Elisur; op die vyfde dag Suri-Saddai, die leier van Simeon se seun Selumiël; op die sesde dag Reüel, die leier van Gad se seun Eljasaf; op die sewende dag Ammihud, die leier van Efraim se seun Elisama; op die agste dag Pedasur, die leier van Manasse se seun Gamliël; op die negende dag Gidoni, die leier van Benjamin se seun Abidan; op die tiende dag Ammi-Saddai, die leier van Dan se seun Agiëser; op die elfde dag Okran, die leier van Aser se seun Pagiël, en op die twaalfde dag Enan, die leier van Naftali se seun Agira.Elke leier het presies dieselfde offers gebring: een silwerskottel wat een en ’n half kilogram geweeg het, een silwerbak van 800 gram, albei volgens die standaardgewig van die heiligdom waar God gedien word en vol meel met olie gemeng as graanoffer; een goue wierookpannetjie van 115 gram, vol wierook; een jong bul, een ram en een jaaroud lam as brandoffers; een bokram as sondeoffer; en twee osse, vyf ramme, vyf bokramme en vyf jaaroud lammers as eteoffers.

84. Die offers wat die leiers van Israel gebring het toe die altaar ingewy is, was altesaam twaalf silwerskottels, twaalf silwerbakke en twaalf goue wierookpannetjies.

Lees volledige hoofstuk Numeri 7