Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 4:13-32 Die Boodskap (DB)

13. Nadat hulle al die as van die altaar afgevee het, moet hulle ’n pers doek daaroor gooi.

14. Dan moet hulle al die gereedskap wat vir die diens by die altaar gebruik word, daarop neersit: die vuurpanne, hake, grawe en bakke. Daarna moet hulle dit met ’n seil van gebreide vel toedraai en die pale waarmee dit gedra word, insit.

15. “Wanneer dit tyd is om die kamp te verskuif, moet Aäron en sy seuns eers al die voorwerpe wat gebruik word om die Here te dien behoorlik toemaak. Eers dan kan die Kehatiete dit kom dra na die volgende kamp toe. Hulle mag nie aan hierdie voorwerpe raak nie, anders sal hulle dadelik doodgaan. Dit is die Kehatgroep se taak wanneer die tent waar die Here aanbid word, verskuif moet word.

16. “Aäron se seun Eleasar is verantwoordelik vir die olie vir die kandelaar, die wierook, die graanoffer wat daagliks geoffer word en die olie waarmee alles gesalf word. Eintlik is hy verantwoordelik vir die hele tabernakel.”

17. Verder het die Here vir Moses gesê:

18. “Julle moet seker maak dat die Kehatgroep van die Leviete nie doodgemaak word omdat hulle aan die voorwerpe geraak het wat opsy gesit is vir my diens nie.

19. Wanneer hulle kom om hierdie voorwerpe te dra, moet Aäron en sy seuns mooi vir hulle verduidelik wat om te doen sodat hulle nie dalk aan daardie voorwerpe raak nie.

20. Onthou, die Kehatiete mag nie eens naby die tabernakel kom terwyl die priesters die voorwerpe gereedmaak nie. Al sou hulle net vir ’n oomblik daarna kyk, sal hulle doodgaan.”

21. Die Here het vir Moses gesê:

22-23. “Tel nou al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Gersongroep. Dit moet al die families insluit, almal wat diens kan doen in die tent waar Ek aanbid word.

24. Hulle werk is om algemene take te verrig en om al die swaar voorwerpe te dra.

25. Dit sluit in die gordyne van die tabernakel, asook die tabernakel self met die binneseil en buiteseil van gebreide vel. Hulle moet ook die gordyne by die ingang van die tent waar Ek aanbid word, dra,

26. asook die gordyne by die ingang van die voorhof en dié wat rondom die tabernakel en die altaar gespan is. Hulle is ook verantwoordelik vir al die voorwerpe wat vir hierdie doel gebruik word, soos toue en penne.

27. Aäron en sy seuns moet seker maak dat die Gersoniete al hierdie pligte nakom. Dit is hulle werk om te besluit wat die groep moet doen.

28. Aäron se seun Itamar moet kyk dat hulle hulle werk doen.”

29-30. “Tel al die Leviete tussen 30 en 50 jaar oud in die Merarigroep. Dit moet al hulle families insluit, almal wat kan werk in die tent waar Ek aanbid word.

31. Hulle pligte is om die volgende voorwerpe te dra: die rame, die dwarslatte, die hoekpale asook die voetstukke van die tabernakel.

32. Verder moet hulle ook die hoekpale van die voorhof met hulle voetstukke, en ook al die penne, toue en ander toebehore dra. Maak ’n lys waarin sekere voorwerpe aan spesifieke persone toegeken word.

Lees volledige hoofstuk Numeri 4