Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 31:5-18 Die Boodskap (DB)

5. Hulle het toe 1 000 soldate uit elke stam gekies en hulle met wapens toegerus om te gaan veg. Daar was altesaam 12 000 soldate.

6. Moses het die soldate saam met Eleasar se seun Pinehas gestuur om te gaan veg. Hulle het van die spesiale voorwerpe saamgevat wat hulle in die tabernakel gebruik het om God te dien en ook die trompette waarmee hulle seine aan die soldate kon gee.

7. Hulle het die Midianiete aangeval presies soos die Here beveel het, en al die mans doodgemaak.

8. Onder die mense wat doodgemaak is, was die vyf Midianitiese konings: Ewi, Rekem, Sur, Gur en Reba. Hulle het ook vir Bileam seun van Beor doodgemaak.

9. Die Israeliete het al die Midianitiese vroue gevang, hulle beeste en kleinvee gevat en hulle besittings gestroop.

10. Hulle het ook al hulle stede en dorpe verbrand.

11. Nadat hulle al hulle oorlogsbuit en al die mense en diere bymekaargemaak het,

12. het hulle dit alles na hulle kamp toe gevat op die vlaktes van Moab. Dit is regoor Jerigo langs die Jordaanrivier. Daar het hulle alles vir Moses en die priester Eleasar in die teenwoordigheid van die volk gegee.

13. Moses en Eleasar het saam met die ander leiers van die volk die soldate buite die kamp gaan inwag.

14. Moses was baie kwaad vir die offisiere en hulle onderoffisiere toe hulle van die geveg af terugkom.

15. “Hoekom het julle die vroue laat leef?” het hy vir hulle gevra.

16. “Dit is juis hulle wat Bileam se raad gevolg het en die Israeliete verlei het om Baäl-Peor te aanbid. As gevolg daarvan het die Here ons met ’n siekte-epidemie getref!

17. Maak nou dadelik al die seuntjies dood, so ook al die vroue wat al by ’n man geslaap het.

18. Net die jongmeisies wat nog maagde is, mag julle laat lewe en hulle vir julle as vroue vat.

Lees volledige hoofstuk Numeri 31