Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 31:14-25 Die Boodskap (DB)

14. Moses was baie kwaad vir die offisiere en hulle onderoffisiere toe hulle van die geveg af terugkom.

15. “Hoekom het julle die vroue laat leef?” het hy vir hulle gevra.

16. “Dit is juis hulle wat Bileam se raad gevolg het en die Israeliete verlei het om Baäl-Peor te aanbid. As gevolg daarvan het die Here ons met ’n siekte-epidemie getref!

17. Maak nou dadelik al die seuntjies dood, so ook al die vroue wat al by ’n man geslaap het.

18. Net die jongmeisies wat nog maagde is, mag julle laat lewe en hulle vir julle as vroue vat.

19. Elkeen van julle wat iemand in die oorlog doodgemaak het of aan ’n lyk geraak het, moet vir sewe dae uit die kamp uit bly. Julle moet julleself en julle gevangenes op die derde en die sewende dag reinig deur die voorgeskrewe offers te bring.

20. Julle moet elke stuk klere en elke ander ding wat van leer of bokhaar of hout gemaak is, ook reinig.”

21-23. Eleasar het toe vir die soldate gesê: “Die Here het vir Moses beveel: Alle oorlogsbuit wat hitte kan verduur, soos goud, silwer, brons, yster, tin en lood, moet eers met vuur skoongebrand word en daarna met reinigingswater skoongewas word. Daarna is dit skoon en aanvaarbaar voor die Here. Alles wat nie met vuur skoongemaak kan word nie, moet net met reinigingswater gewas word.

24. Julle moet almal op die sewende dag julle klere was. Daarna sal julle weer rein wees en in die kamp kan inkom.”

25. Die Here het vir Moses gesê:

Lees volledige hoofstuk Numeri 31