Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 29:12-24 Die Boodskap (DB)

12. “Op die vyftiende dag van die sewende maand moet julle vir ’n spesiale lofprysingsgeleentheid bymekaarkom. Op daardie dag mag niemand werk nie. Dit is die begin van die huttefees, ’n fees tot eer van die Here om dankie te sê vir sy goedheid en sorg. Dit hou sewe dae lank aan.

13. Julle moet vir die Here ’n brandoffer bring van dertien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat heeltemal gesond is.

14. Saam met elke bul moet julle ’n graanoffer bring van drie kilogram meel wat met olyfolie gemeng is, saam met elke ram twee kilogram

15. en saam met elke lam een kilogram. Die gewone drankoffers hoort natuurlik ook hierby.

16. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Behalwe hierdie offers moet die daaglikse brandoffers, met hulle graan- en drankoffers, steeds gebring word.

17. “Op die tweede dag van die fees moet julle twaalf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer.

18. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers bring.

19. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die normale daaglikse brandoffers, met hulle graan- en drankoffers, moet ook steeds gebring word.

20. “Op die derde dag van die fees moet julle elf jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer.

21. Daarmee saam moet julle ook die graan- en drankoffers offer.

22. Dan moet julle ook ’n bokram offer om vergifnis te vra vir die volk se sonde. Die gereelde daaglikse brandoffers, met die graan en drankoffers, moet ook steeds gebring word.

23. “Op die vierde dag van die fees moet julle tien jong bulle, twee ramme en veertien jaaroud rammetjies wat niks makeer nie, offer.

24. Verder moet julle ook die voorgeskrewe graan- en drankoffers offer.

Lees volledige hoofstuk Numeri 29