Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 23:11-20 Die Boodskap (DB)

11. Toe vra Balak vir Bileam: “Wat het jy aangevang? Ek het jou hiernatoe laat kom om my vyande te vervloek, en nou kom jy en jy wens hulle voorspoed toe!”

12. Bileam antwoord toe: “Ek kan tog niks anders sê as wat die Here vir my gesê het nie!”

13. Toe sê Balak vir Bileam: “Kom saam met my na ’n ander plek toe waarvandaan jy net ’n deel van die Israeliete kan sien. Van daar af kan jy hulle dan vir my vervloek.”

14. Hulle is toe na die vallei van Sophim toe tot op die top van die berg Pisga. Daar het Balak weer sewe altare gebou en ’n bul en ’n ram op elkeen geoffer.

15. Toe sê Bileam vir Balak: “Bly jy hier by die brandoffers. Ek gaan so ’n bietjie eenkant toe om te kyk of die Here met my wil praat.”

16. God het toe vir hom gesê: “Gaan nou terug na Balak toe en gee vir hom die boodskap van My af.”

17. Toe Bileam terugkom, het Balak en die amptenare van Moab nog steeds by die brandoffers gestaan. Balak wou toe by hom weet: “Wat het die Here gesê?”

18. Toe antwoord Bileam: “Staan ’n bietjie nader, Balak, seun van Sippor. Luister mooi!

19. God is nie ’n mens nie, daarom lieg Hy nie. Hy gaan nooit terug op sy woord nie. Dink jy God belowe iets en doen dit nie? Het Hy al ooit iets gesê en nie sy woord gehou nie?

20. “God het my beveel om hulle te seën, om sy goedheid oor hulle af te bid. Dit kan ek nie verander nie.

Lees volledige hoofstuk Numeri 23