Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 22:9-23 Die Boodskap (DB)

9. Dié nag het God na Bileam toe gekom en vir hom gevra: “Wie is die mans wat in jou huis is?”

10. Hy het geantwoord: “Dit is boodskappers van koning Balak van Moab wat vir my moes kom sê:

11. ‘Hier het nou ’n groot volk uit Egipte aangekom. Oral waar hulle kom, vat hulle oor. En hulle het hulle nou hier op my voorstoep kom tuismaak. Hulle is te veel vir ons om baas te raak. Kom help my, asseblief! Ek wil hê jy moet hulle kom vervloek; miskien sal ons hulle dan kan baasraak en uit ons land uit wegjaag.’”

12. “Moenie saam met hulle gaan nie,” het God vir Bileam gesê. “Jy mag nie ’n vloek oor hierdie volk uitspreek waarin jy sê dat Ek hulle moet straf nie, want Ek het hulle alreeds met my goedheid geseën.”

13. Toe Bileam die volgende môre opstaan, het hy vir Balak se leiers gesê: “Gaan dadelik huis toe. Die Here wil nie hê ek moet saam met julle gaan nie.”

14. Hulle is toe terug na Balak toe in Moab met die boodskap: “Bileam weier om saam met ons te kom.”

15. Balak het weer probeer. Hierdie keer het hy nog meer en belangriker mense as die vorige keer gestuur.

16. Hulle het vir Bileam gesê: “Koning Balak sê: Kom asseblief dadelik na my toe.

17. Ek sal jou baie goed betaal vir jou dienste en sal doen net wat jy wil hê. Ek smeek jou: kom tog net hiernatoe en vervloek hierdie vreemde volk.”

18. Maar Bileam het vir hulle gesê: “Selfs al sou Balak vir my sy paleis vol silwer en goud gee, mag ek net doen wat die Here my God my toelaat. Niks anders as dit nie.

19. Maar bly julle ook ’n nag hier by my oor, dan kyk ons of die Here nie dalk weer met my hieroor wil praat nie.”

20. Daardie nag het God weer met Bileam kom praat en vir hom gesê: “Aangesien hierdie manne jou kom haal het, gaan dan maar saam hulle, maar jy mag net doen wat Ek vir jou sê.”

21. Die volgende môre het Bileam sy donkie opgesaal en saam met die leiers van Moab vertrek.

22. Maar die Here het kwaad geword omdat Bileam saam met hulle gegaan het. Daarom het Hy die Engel van die Here gestuur om in Bileam se pad te kom staan. Bileam het op sy donkie gery met twee van die amptenare saam met hom.

23. Toe die donkie die Engel van die Here in die pad sien staan met ’n groot swaard in sy hand, het die donkie verskrik uit die pad uit gespring die veld in. Bileam het die donkie geslaan en hom teruggedwing pad toe.

Lees volledige hoofstuk Numeri 22