Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 20:17-29 Die Boodskap (DB)

17. Ons vra toestemming om deur u land te trek. Ons sal nie deur u landerye of die wingerde trek nie. Ons sal nie eens water uit julle putte skep om te drink nie. Ons sal op die grootpad bly, die een wat die Koningspad genoem word, totdat ons deur u gebied is.”

18. Die koning van Edom se antwoord was kort en kragtig: “Bly uit my land uit of maak julle reg vir oorlog!”

19. Die Israeliete het toe weer mooi gevra: “Ons belowe om net op die grootpad te bly, en as ons of ons vee van die water in julle putte drink, sal ons daarvoor betaal. Ons is nie julle vyande nie, ons wil net die pad deur u land gebruik.”

20. Maar die koning van Edom het botweg geweier en sy groot leër bymekaargemaak om teen die Israeliete te gaan oorlog maak.

21. Omdat Edom geweier het om Israel deur hulle land te laat trek, moes Israel toe maar van koers verander.

22. Die Israeliete het van Kades af weggetrek en by die berg Hor op die grens van Edom aangekom.

23. Daar het die Here vir Moses en Aäron gesê:

24. “Aäron se einde is hier. Hy gaan sterf. Omdat julle twee by Meriba so hardkoppig was en nie gedoen het wat Ek gesê het nie, sal hy beslis nie in die land ingaan wat Ek aan die Israeliete belowe het nie.

25. Laat Aäron en sy seun Eleasar saam met jou teen die berg Hor uitklim.

26. Daar moet Aäron sy priesterklere uittrek en dit vir sy seun gee om aan te trek. Aäron gaan daar op die berg sterf.”

27. Moses het gedoen wat die Here gesê het. Die drie van hulle is toe saam die berg uit terwyl die volk hulle agterna gekyk het.

28. Bo-op die berg het Moses Aäron sy priesterklere laat uittrek en dit toe vir sy seun Eleasar gegee om aan te trek. Aäron is daar op die berg dood. Daarna het Moses en Eleasar van die berg afgekom.

29. Toe die volk hoor dat Aäron dood is, het hulle ’n volle 30 dae lank oor hom gehuil en getreur.

Lees volledige hoofstuk Numeri 20