Ou Testament

Nuwe Testament

Numeri 15:21-35 Die Boodskap (DB)

21. Hierdie gebruik om die eerste growwe meel van die oes aan My te offer moet ook in die toekoms deur julle kinders nagekom word.”

22. “Dit kan dalk gebeur dat een van julle ’n fout maak en nie al hierdie reëls nakom wat die Here vir Moses gegee het nie.

23. Of dat julle kinders dalk in die toekoms per ongeluk nie alles doen soos die Here dit wil hê nie.

24. Dan moet die hele volk bymekaarkom en ’n jong bul as ’n brandoffer en ’n bokram aan die Here offer om te wys hulle is jammer oor hulle sondes. Hulle moet dit offer saam met die gewone graan- en drankoffers. As hulle dit doen, sal die Here hulle sondes vergewe.

25. Verder moet die priester ook namens die volk by die Here verskoning vra vir wat hulle verkeerd gedoen het. Dan sal die Here hulle vergewe omdat hulle nie moedswillig die sonde gedoen het nie en omdat hulle die offers gebring het wat die Here voorskryf.

26. Almal wat verkeerd gedoen het, sal vir hierdie fout vergewe word, Israeliete sowel as persone van ander afkoms wat by hulle bly.

27. “As dit net een mens is wat onwetend ’n sonde gedoen het, moet die persoon ’n jaaroud bokooi bring as teken van berou.

28. Die priester moet namens die persoon vir die Here om verskoning vra, waarna die Here die persoon sal vergewe.

29. Dit is een en dieselfde wet wat geld vir die Israeliete sowel as die persone van ander afkoms wat by hulle bly.

30. “Indien iemand moedswillig sonde doen, het hy die Here se eer aangetas. Dit maak nie saak of die persoon ’n Israeliet is of ’n persoon van ’n ander afkoms wat by die Israeliete bly nie, maar dié persoon mag dan nie meer as deel van die volk van die Here beskou word nie. Die gemeenskap moet die rug vir so ’n persoon draai.

31. Omdat so ’n persoon die Here verwerp het en moedswillig sy reëls oortree het, moet hy die gevolge van sy daad dra: hy moet doodgemaak word.”

32. Op ’n dag terwyl die Israeliete weer in die woestyn was, het hulle agtergekom dat ’n sekere man op die sabbat vuurmaakhout bymekaargemaak het.

33. Die mense wat hom op heterdaad betrap het, het hom na Moses, Aäron en die res van die volk toe gevat om oor sy lot te besluit.

34. Omdat niemand heeltemal seker was wat om met hom te doen nie, het hulle hom opgesluit gehou.

35. Toe sê die Here vir Moses: “Die man moet doodgemaak word! Vat hom uit die kamp uit en laat die volk hom met klippe doodgooi.”

Lees volledige hoofstuk Numeri 15