hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 4 Die Boodskap (DB)

Die dag as die son gesond maak

1. Onthou, die dag van afrekening kom. ’n Mens sou dit kon vergelyk met ’n verskriklike warm vuur. Op daardie dag sal die selftevrede, beterweterige mense wat gedink het God is iemand met wie jy speletjies kan speel, soos fyn houtjies in ’n vuur wees. Die vlamme sal nog skaars aan hulle raak, dan is hulle klaar tot as verbrand. Daar sal niks van hulle oorbly nie, sê die Here, die Grootkoning.

2. Maar vir dié van julle wat My liefhet en aan My gehoorsaam is, sal my verlossing soos die son wees. Wanneer dit opkom, jaag dit die donker weg en gee lig. Daar waar die son se strale op ’n seerplek skyn, word dit vinnig gesond. So sal Ek die nuwe lewe oor julle laat kom. Dan sal julle soos opgewonde kinders wees wat ’n nuwe geskenk kry. Julle sal nie kan wag om vir almal daarvan te vertel nie.

3. Op daardie dag sal die onverskillige mense agterkom dat hulle niks is nie, maar julle sal sien dat die Here sy beloftes hou teenoor die mense wat Hom liefhet en na Hom luister.

Slotwoord

4. Nadat Ek Moses op Sinai ontmoet het en hom vertel het wie Ek is, het hy julle geleer hoe om My lief te hê. Gaan leef dit elke dag uit, want dit is wat Ek van my kinders verwag.

5. Voordat die dag van afrekening kom, sal Ek die profeet Elia as ’n boodskapper vir julle stuur.

6. Deur sy preke sal verhoudings tussen mense weer regkom. Veral die verhouding tussen ouers en hulle kinders sal weer herstel word sodat dit nie vir My nodig sal wees om die land te kom verwoes omdat die mense mekaar nie liefhet soos Ek hulle liefhet nie.Nuwe Testament