hoofstukke

  1. 1
  2. 2
  3. 3
  4. 4

Ou Testament

Nuwe Testament

Maleagi 3 Die Boodskap (DB)

1. Ek is die Here wat altyd reg optree; daarom stuur Ek solank my boodskapper voor My uit om alles reg te kry vir dié dag wanneer Ek na julle toe kom om hieroor met julle te praat. En as alles reg is, kom Ek gouer as wat julle kan dink om in die tempel hierdie saak met julle uit te maak. Ek weet julle is opgewonde oor die dag waarop my boodskapper julle sal kom besoek en met julle oor my ooreenkoms met julle gaan praat. En ja, dié dag is vinniger op pad as wat julle dink.

2. Ek is net nie so seker dat julle weet wat op julle wag nie. Want wanneer dié dag kom, gaan dit ’n verskriklike dag wees. Hy sal julle laat dink aan ’n witwarm vuuroond waarin hulle yster smelt of aan die sterkste seep waarmee jy baie vuil klere moet was.

3. Iemand wat silwer smelt, weet daar is vuilgoed in die silwer. As hy dit warm genoeg maak, dryf die vuilgoed naderhand bo-op. Al wat hy dan hoef te doen om die silwer skoon te kry, is om die vuilgoed af te skep en weg te gooi. Dit is wat hy met die priesters gaan kom doen. Hy gaan die verkeerde goed wat hulle doen, skoonmaak sodat hulle weer die regte soort offers vir die Here kan bring.

4. Dan sal die Here weer die mense van Juda en Jerusalem se offers aanvaar soos Hy dit voorheen gedoen het.

5. Ek gaan na julle toe kom soos ’n regter wat moet uitspraak lewer en ’n getuie wat nie bang is om die waarheid te praat nie, sê die Here wat reg doen. Die mense wat Ek gaan aankla, is: mense wat hulle met slegte dinge besig hou en almal bangmaak met hulle sondes; mense wat hulle eie huwelik en dié van ander opbreek omdat hulle ontrou is; mense wat leuens vertel; oneerlike werkgewers wat nie die mense wat vir hulle werk, betaal wat hulle werd is nie; mense wat misbruik maak van ander wat nie vir hulleself kan sorg nie, soos weduwees en kinders wat nie ouers het om na hulle te kyk nie; mense wat voordeel trek uit ander mense wat vreemd is in hulle dorp en nie weet hoe alles werk nie; en almal wat nie respek het vir My as die Here wat altyd reg doen nie.

Maak my hande los sodat Ek julle kan help

6. Ek is die Here. Daarom het Ek nog nooit verander soos julle beweer nie. Maar julle het ook nog nooit verander nie. Julle bly nog steeds Jakob se kinders wat net soos hy altyd loop en bedrieg. Ten spyte daarvan het Ek julle nog nooit aan julleself oorgelaat nie.

7. Julle is net soos julle voorouers. Hulle het ook die rug vir My gedraai en nie gedoen wat Ek van hulle gevra het nie. Wil julle nie omdraai en weer terugkom na My toe nie? Ek wil graag weer my hande na julle toe uitsteek en julle terugvat. Maar nou vra julle: “Hoekom moet ons terugkom as ons nog nooit weg was nie?”

8. Sê nou vir My: Is dit reg om van God te steel? Natuurlik nie, maar tog steel julle van My! Moet nou nie so verbaas lyk en vra: “Wanneer het ons van U gesteel?” nie. Waar is die tiendes en die dankoffers wat julle moet bring sodat die gemeente die mense wat dit nodig het, daarmee kan versorg?

9. Dit is die rede waarom dit so swaar gaan met julle, want die hele volk is besig om van My te steel.

10. Bring julle volle tiende na die tempel se stoorkamers toe sodat daar genoeg kan wees om dié wat nie vir hulleself kan sorg nie te help. Probeer dit en kyk wat gebeur. As julle dit doen, sal julle sien dat julle my hande wat agter my rug vasgemaak was, losgemaak het, en dan sal Ek weer vir julle kan sorg na die beste van my vermoë.

11. Ek sal sorg dat julle lande weer goeie oeste het en julle wingerde se druiwe volop sal wees, sê die Here van die oorvloed.

12. Julle land sal so ’n wonderlike plek wees dat die mense van die ander lande sal sê: “Kyk hoe seën die Here hulle.”

God se kosbare besittings

13. Julle sê lelike goed oor My wat My baie seermaak, sê die Here. En nou wil julle weet: “Wat het ons gesê wat so verkeerd is?”

14. Kom Ek herhaal julle woorde vir julle: “Dit hou nie vir ons enige voordeel in om die Here te dien nie. Wat help dit om te probeer doen wat Hy sê en met ’n lang gesig te loop om te wys ons is jammer oor wat ons verkeerd gedoen het?

15. Wat ons betref, is die gelukkigste mense dié wat selfsugtig is. Kyk hoe goed gaan dit met die slegte mense. Asof dit nie genoeg is nie, doen hulle net wat hulle wil en God doen niks aan hulle nie.”

16. Toe het die mense wat die Here baie liefhet, met mekaar oor die Here begin praat. Die Here het baie mooi na hulle geluister. Dit het sy hart geraak. Hy het seker gemaak dat hulle name in sy persoonlike dagboek opgeteken word sodat Hy nooit van hulle vergeet nie.

17. Daarom sê die Here, die Grootkoning: Hulle is my kinders vir wie Ek omgee. Op die dag wanneer Ek rekenskap kom vra, sal hulle vir My soos ’n baie kosbare besitting wees. Ek sal hulle teen my bors vasdruk soos ’n pa met ’n kind maak vir wie hy baie lief is.

18. Dan sal julle die verskil sien tussen wat met onverskillige, slegte mense aan die een kant gebeur en hoe Ek die mense wat My liefhet aan die ander kant versorg; die verskil tussen hulle wat vir My luister en dié wat dink hulle weet alles.