Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 8:21-27 Die Boodskap (DB)

21. Nadat hy die binnegoed en agterpote met water afgewas het, het Moses dit wat van die ram oor was, op die altaar verbrand. Dit was ’n offer wat verbrand word wat vir die Here baie aanvaarbaar is. Dit was soos die Here Moses beveel het om te maak.

22. Toe is die tweede ram nader gebring. Die ram sou gebruik word om die dienaars by die tent in hulle werk aan te stel. Aäron en sy seuns het hulle hande op die kop van die ram gesit.

23. Moses het dit geslag en van sy bloed gevat en daarvan aan Aäron se regteroorlel, sy regterduim en sy regtergroottoon gesmeer.

24. Moses het ook Aäron se seuns laat nader kom en van die bloed aan elkeen se regteroorlel, regterduim en regtergroottoon gesmeer. Moses het die bloed wat oor was teen die kante van die altaar uitgegooi.

25. Hy het toe van die ram se vet gevat, sy vetstert, al die vet aan die binnegoed, die punt van sy lewer, sy twee niere, asook die niervet en sy regterblad.

26. Hy het uit die mandjie vol brode wat sonder suurdeeg gebak is en voor die Here gestaan het, ’n ronde brood gevat, en ’n ringbrood wat met olie gebak is en ’n roosterkoek, en dit by die vet en die regterblad gesit.

27. Daarna het hy dit alles vir Aäron en sy seuns gegee en hulle het dit as beweegoffer aan die Here opgedra.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 8