Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 26:38-46 Die Boodskap (DB)

38. Julle sal by die heidennasies doodgaan. Julle vyand se land sal julle insluk.

39. Dié van julle wat oor is, sal in julle vyand se land uitsterf as gevolg van julle en julle ouers se sondes.”

40. “Dan sal julle julle sondes en dié van julle ouers bely. Julle sal erken dat julle nie aan My getrou was nie en dat julle My so uitgetart het

41. dat Ek teen julle moes draai. Ek moes julle na julle vyande se land laat wegvoer om te sien of julle nie miskien julle gesindheid sal verander en julle sonde weer sal regmaak nie.

42. As julle dit sou doen, kon Ek weer my verbintenis aan Jakob, Isak en Abraham in gedagte roep en weer van die land onthou.

43. Julle sal egter eers uit die land moet weggaan. Julle sal die straf vir julle skuld moet dra. In die tyd dat julle weg is en die grond net so onbewerk lê, sal die land die agterstallige rusjare inhaal.

44. Ten spyte egter van al hierdie dinge, selfs al is julle gevangenes in die land van julle teëstanders, sal Ek julle nie so weggooi en julle nie so minag dat Ek my verbintenis met julle heeltemal sal opsê nie. Ek is tog julle God, die Here.

45. Ek het julle uit Egipte laat trek terwyl die ander nasies dit gesien het. Ek sal onthou dat Ek beloof het om julle God te wees. Ek is tog die Here.”

46. Dit is al die reëls en die voorskrifte wat die Here tussen Hom en die Israeliete deur Moses daar op die Sinaiberg neergelê het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 26