Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 25:33-41 Die Boodskap (DB)

33. ’n Huis in ’n Levietestad wat verkoop is, maar nie teruggekoop is nie, moet gedurende die hersteljaar teruggaan na sy oorspronklike Levitiese eienaar toe. Die huise in Levitiese stede is die permanente eiendom van die Leviete in Israel.

34. Die weivelde in die buitewyke van hulle stede is nie te koop nie. Dit is hulle onvervreembare erfgrond.”

35. “As een van die ander Israeliete agteruit begin boer en hy raak so diep in die skuld dat hy nie meer daar kan uitkom nie, moet jy hom help. Staan hom by soos jy iemand wat van ’n ander land af kom, of iemand wat by jou woon, sou help om aan die lewe te bly.

36. Jy moenie rente vra of heffings bysit by die geld wat hy van jou geleen het nie. Uit respek vir jou God moet jy na hom omsien.

37. Jy moenie rente vra op die geld wat jy vir hom leen nie. Jy moet ook nie vir hom kos gee en ekstra geld daarvoor vra nie.

38. Ek is tog die Here julle God wat julle uit Egipte laat wegtrek het, juis om Kanaän aan julle te gee om dit te besit en om julle God te wees.

39. “As ’n ander Israeliet so diep in die skuld raak dat hy verplig word om homself as ’n slaaf aan jou te verkoop om sy skuld te betaal, moet jy hom nie soos ’n slaaf behandel en hom slawewerk laat doen nie.

40. Jy moet hom behandel soos iemand wat tydelik in jou diens is, of soos ’n werknemer wat in jou huis woon. Laat hy in jou diens bly tot in die hersteljaar.

41. Hy en sy kinders moet dan van jou af weggaan en as vry mense terugkeer na hulle familie en hulle erfgrond toe.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 25