Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 24:17-23 Die Boodskap (DB)

17. “As ’n persoon iemand anders doodmaak, moet hy self doodgemaak word.

18. Die persoon wat iemand anders se dier doodmaak, moet daarvoor vergoed en ’n dier wat dieselfde waarde het, in sy plek gee.

19. As iemand ’n medemens aan sy lyf seermaak, moet hy op dieselfde plek seergemaak word en in eie munt terugbetaal word.

20. As hy iemand se been breek, word sy been gebreek. As hy iemand se oog beskadig, word sy oog ook beskadig. As hy iemand se tand uitslaan, word sy eie tand uitgeslaan. Hy word presies met gelyke munt terugbetaal vir die skade wat hy gedoen het.

21. As hy ’n dier doodmaak, kan hy nog daarvoor vergoed, maar as hy ’n mens doodmaak, moet hy met sy eie lewe betaal.

22. Daar is net een wet vir almal. Die gebore Israeliet en die buitelander word presies eenders behandel. Ek is die Here. Ek is julle almal se God.”

23. Moses het toe uitspraak in die saak gelewer en die Israeliete het die man wat gevloek het, uit die kamp uitgevat en hom daar met klippe doodgegooi. Die Israeliete het presies net so gemaak soos die Here vir Moses beveel het.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 24