Ou Testament

Nuwe Testament

Levitikus 13:18-31 Die Boodskap (DB)

18. “As iemand ’n seer op sy lyf gehad het wat weer gesond geword het,

19. en daar kom dan ’n wit roof of rooierige vlek op die plek waar die seer was, moet hy dit vir die dienaar by die tent waar die Here gedien word, gaan wys.

20. As dit vir die dienaar lyk of dit onder die vel ingaan en die hare op daardie plek verkleur het, moet hy die man wegstuur. ’n Kwaadaardige velsiekte het in die seer ontstaan.

21. As hy daarna kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of iets wat onder die vel ingaan nie, maar dat die hare ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder.

22. As dit dan sonder twyfel oor die vel versprei het, moet hy die man wegstuur. Dit is ontsteek.

23. As dit egter net so bly en die uitslag sprei nie verder nie, is dit die litteken wat die seer gelaat het. Hy moet die man na sy mense laat teruggaan.

24. “Wanneer die roof oor ’n brandwond rooierig of wit word,

25. moet die dienaar dit ondersoek. As die hare in die roof ’n ander kleur gekry het en dit is dieper as die vel, het daar kwaad in die brandwond gekom. Die dienaar moet hom dan wegstuur. Hy het ’n kwaadaardige velsiekte.

26. As die werker by die tent na die roof kyk en hy sien nie hare wat verkleur het of dat dit onder die vel ingegaan het nie, maar dat dit tog ligter geword het, moet hy die man vir sewe dae afsonder.

27. Wanneer hy dit op die sewende dag weer ondersoek en dit het beslis verder oor die vel versprei, moet hy die man wegstuur. Dit het kwaadaardig geword.

28. As die wond egter net so gebly het en die uitslag het nie verder oor die vel versprei nie, maar dit het ligter geword, is dit ’n gewone merk wat die brandwond gelaat het. Die dienaar moet die man dan terugstuur na sy mense toe, want dit is ’n gewone litteken op die brandwond.

29. “Wanneer ’n man of ’n vrou ’n seer teen die kop het of teen die ken

30. en dit vir die dienaar lyk of dit dieper as die vel is en daar koperkleurige dun haartjies in die wond is, moet hy die persoon wegstuur. Dit is ’n kwaai velsiekte van die kop of die ken.

31. Wanneer hy die veluitslag ondersoek en dit lyk vir hom of dit nie dieper as die vel is nie en daar is nie swart haartjies in die wond nie, moet hy die geval met die velaandoening vir sewe dae in isolasie plaas.

Lees volledige hoofstuk Levitikus 13