Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 9:16-23 Die Boodskap (DB)

16. Drie dae nadat die ooreenkoms gesluit is, het die Israeliete uitgevind dat die Gibeoniete eintlik baie naby bly, sommer daar in dieselfde omgewing.

17. Die Israeliete is onmiddellik daar weg om te gaan ondersoek instel. Na drie dae het hulle by die stede van die Gibeoniete aangekom: Gibeon, Kefira, Beërot en Kirjat-Jearim.

18. Die Israeliete het hulle egter nie aangeval nie, omdat hulle leiers ’n eed in die Naam van die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê het. Hieroor was die volk ontsteld en het by die leiers gekla.

19. Maar die leiers van Israel het gesê: “Ons het ’n eed voor die Here die God van Israel teenoor die Gibeoniete afgelê. Ons mag nou niks aan hulle doen nie.

20. Ons moet hulle laat lewe, anders sal ons gestraf word omdat ons nie ons belofte gehou het nie.

21. Laat hulle lewe. Maar ons het ’n ander voorstel. Hulle sal vir die res van hulle lewe vir ons moet water aandra en hout kap vir ons om te gebruik.”

22. Toe laat roep Josua die mense van Gibeon en vra hulle: “Hoekom het julle ons bedrieg deur te sê julle bly ver van ons af terwyl julle geweet het dit is nie waar nie?

23. As gevolg daarvan rus daar nou ’n vonnis op julle. Julle sal vir altyd diensknegte wees wat moet sorg dat daar genoeg hout en water vir die huis van my God is.”

Lees volledige hoofstuk Josua 9