Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:27-35 Die Boodskap (DB)

27. Met sononder is hulle op Josua se bevel van die bome afgehaal en in die grot gegooi waarin hulle vroeër weggekruip het. Die ingang van die grot is toe met groot klippe toegepak as ’n blywende herinneringsteken.

28. Daardie selfde dag het Josua Makkeda ook ingeneem en verwoes. Hy het die mense en hulle koning doodgemaak. Alles in die stad is uitgeroei. Daar het niks oorgebly nie. Die koning van Makkeda is, net soos die koning van Jerigo, ook doodgemaak.

29. Van Makkeda af is Josua en sy soldate na Libna toe en het dié ook aangeval.

30. Die Here het ook vir Israel ’n oorwinning oor hierdie stad laat behaal. Hulle het niemand se lewe gespaar nie. Ook die koning van Libna is doodgemaak.

31. Van Libna af is Josua en sy soldate na Lakis toe. Hy het sy soldate die stad laat omsingel en dit aangeval.

32. Op die tweede dag van die stryd het die Here Lakis in Israel se mag oorgegee. Net soos by Libna het hulle ook almal in die stad doodgemaak.

33. Gedurende die geveg het koning Horam van Geser saam met sy troepe vir Lakis te hulp gesnel. Maar Josua se manskappe het hom en al sy soldate tot die laaste man toe doodgemaak.

34. Van hier af het Josua en die volk verder getrek na Eglon toe. Daar aangekom, het hulle dit omsingel en toe aangeval.

35. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en almal daarin doodgemaak. Net soos in Lakis se geval, het hy alles en almal in die stad vernietig.

Lees volledige hoofstuk Josua 10