Ou Testament

Nuwe Testament

Josua 10:22-38 Die Boodskap (DB)

22. Toe sê Josua: “Vat die klippe weg en bring die vyf konings uit na my toe.”

23. Hulle het dit toe gedoen en die konings van Jerusalem, Hebron, Jarmut, Lakis en Eglon uit die grot uitgebring na Josua toe.

24. Hy roep toe al die manskappe nader en sê vir sy offisiere: “Kom hier, kom sit julle voete op die konings se nekke as teken dat hulle verslaan en verneder is.” Die offisiere het dit toe gedoen.

25. Toe sê Josua vir hulle: “Moenie bang of bekommerd wees nie. Maar wees sterk en vasberade, want dit is presies wat die Here vorentoe met al julle vyande gaan doen.”

26. Daarna het Josua die konings doodgemaak, elkeen van hulle aan ’n boom laat ophang en hulle daar laat hang tot die aand toe.

27. Met sononder is hulle op Josua se bevel van die bome afgehaal en in die grot gegooi waarin hulle vroeër weggekruip het. Die ingang van die grot is toe met groot klippe toegepak as ’n blywende herinneringsteken.

28. Daardie selfde dag het Josua Makkeda ook ingeneem en verwoes. Hy het die mense en hulle koning doodgemaak. Alles in die stad is uitgeroei. Daar het niks oorgebly nie. Die koning van Makkeda is, net soos die koning van Jerigo, ook doodgemaak.

29. Van Makkeda af is Josua en sy soldate na Libna toe en het dié ook aangeval.

30. Die Here het ook vir Israel ’n oorwinning oor hierdie stad laat behaal. Hulle het niemand se lewe gespaar nie. Ook die koning van Libna is doodgemaak.

31. Van Libna af is Josua en sy soldate na Lakis toe. Hy het sy soldate die stad laat omsingel en dit aangeval.

32. Op die tweede dag van die stryd het die Here Lakis in Israel se mag oorgegee. Net soos by Libna het hulle ook almal in die stad doodgemaak.

33. Gedurende die geveg het koning Horam van Geser saam met sy troepe vir Lakis te hulp gesnel. Maar Josua se manskappe het hom en al sy soldate tot die laaste man toe doodgemaak.

34. Van hier af het Josua en die volk verder getrek na Eglon toe. Daar aangekom, het hulle dit omsingel en toe aangeval.

35. Hulle het die stad nog dieselfde dag ingeneem en almal daarin doodgemaak. Net soos in Lakis se geval, het hy alles en almal in die stad vernietig.

36. Van hier af het hulle opgetrek na die berggebied van Hebron toe. Hulle het dié stad ook aangeval

37. en dit ingeneem. Hulle het die koning en al sy mense asook die mense van al die omringende dorpe doodgemaak. Josua het die stad, net soos vir Eglon, totaal vernietig. Niks en niemand is gespaar nie.

38. Daarna het hulle teruggedraai na Debir toe en die stad aangeval.

Lees volledige hoofstuk Josua 10