Ou Testament

Nuwe Testament

Job 5:1-9 Die Boodskap (DB)

1. Elifas het verder gesê: “Al roep jy dat iemand jou moet kom help, niemand sal luister nie. By watter engele sal jy hulp soek?

2. ’n Mens wat ’n wrok dra, is eintlik dom. Dit maak jou op die ou einde dood. Jaloesie doen dieselfde met jou.

3. Ek het al gesien hoedat dom mense dink alles is mooi en reg en dan tref ’n ramp skielik hulle huis.

4. Hulle kinders bly agter en daar is niemand om te kyk of hulle veilig is nie. En as hulle in die hof beland, is daar niemand wat hulle saak verdedig nie.

5. Honger mense steel die dom mens se oes. Hulle haal dit selfs onder die doringtakke uit waarmee dit toegepak is. Daar is gierige mense wat graag hulle rykdom wil hê.

6. Swaarkry is mos nie iets wat uit die stof van die aarde uit opkom nie. Net so kom moeilikheid ook nie uit die grond uit op nie.

7. Vonke spat altyd by ’n vuur. Net so seker as wat dit gebeur, word ’n mens gebore om moeilikheid te kry.”

8. Elifas het aangegaan en gesê: “Wat ek sou gedoen het as ek jy was, Job: ek sou na die Here toe gaan en my saak by Hom stel.

9. Hy doen wonderlike dinge wat eintlik te groot is vir ons om te verstaan. Hy doen meer wonderwerke as waarmee ons ooit rekening kan hou.

Lees volledige hoofstuk Job 5