Ou Testament

Nuwe Testament

Job 36:8-19 Die Boodskap (DB)

8. As hulle in die moeilikheid kom en nie kan loskom nie omdat hulle vasgebind is,

9. wys Hy vir hulle wat hulle verkeerd gedoen het. Hulle kry swaar omdat hulle arrogant was en verkeerd gedoen het.

10. Hy kry hulle aandag en laat hulle baie mooi verstaan dat hulle moet ophou om verkeerde dinge te doen.

11. “As hulle aan God gehoorsaam sal wees en Hom dien, sal dit hulle hele lewe lank baie goed met hulle gaan.

12. Maar as hulle nie na die Here wil luister nie, sal hulle doodgaan. Hulle sal doodgaan omdat hulle nie kon insien dat hulle reg moes lewe nie.

13. Mense wat hulle nie aan God steur nie, troetel graag slegte gevoelens. Selfs al straf God hulle, vra hulle Hom nie om hulle te help nie.

14. Hulle gaan jonk dood omdat hulle hulle lewe verwoes het met die skandelike dinge wat hulle gedoen het.

15. Die Here gebruik mense se swaarkry om hulle iets daardeur te leer. Hy wil hê dit moet hulle leer om gehoorsaam te wees.”

16. Elihu het verder vir Job gesê: “God het jou uit allerhande moeilikhede gehou. Hy het jou laat voel wat dit is om ’n vry mens te wees. Jou lewe was gemaklik en in jou huis was daar oorvloed.

17. Maar jy het heeltemal te veel te sê oor die straf wat slegte mense moet kry. Al waaraan jy kan dink, is die regsake en straf.

18. Pas op dat rykdom jou nie die spoor byster laat raak nie. Moet ook nie dat ’n groot omkoopgeskenk jou op die verkeerde pad laat beland nie.

19. Nie jou rykdom en niks wat jy probeer doen, sal jou uit jou swaarkry kan verlos nie.

Lees volledige hoofstuk Job 36