Ou Testament

Nuwe Testament

Job 31:17-36 Die Boodskap (DB)

17. Sê my ’n bietjie, was ek ooit suinig met kos vir die honger weeskinders? Wou ek dit miskien nie met hulle deel nie?

18. Nee, glad nie! Vandat ek nog sommer baie jonk was, het weeskinders en weduwees my na aan die hart gelê. Ek het nog altyd vir hulle gesorg.

19. As ek iemand gesien het wat nie ’n plek gehad het om teen die wind en weer te skuil nie of nie klere gehad het nie, het ek gehelp.

20. Ja, hulle kon nie uitgepraat raak omdat ek vir hulle wolklere gegee het nie.

21. As ek ooit ’n weeskind uitgebuit het om my te help om ’n hofsaak te wen,

22. mag my skouers losskeur en my arms dan afval.

23. Ek sou nooit so iets gedoen het nie, want ek is bitter bang vir God se straf. Teen God se grootheid het ek geen kans nie.

24. “Ek het nooit my vertroue op geld of goud gesit nie.

25. Ek was ook nie ’n gelukkige en vrolike mens omdat ek ryk was en baie goed gehad het nie.

26. Het ek ooit na die son gekyk wat helder skyn of na die maan wat so mooi is en in die hemel beweeg

27. en my laat verlei om hulle te aanbid?

28. As ek het, was ek ontrou aan die God van die hemel. Dan moet ek gestraf word.

29. “Ek was nooit bly as my vyande probleme gehad het nie. Ek het my ook nie daarin verlekker as slegte goed met hulle gebeur het nie.

30. Verder het ek nog nooit vir iemand gesê ek wens hy gaan dood nie.

31. My werkers weet dat niemand nog ooit honger van my af weggegaan het nie.

32. My deure het nog altyd oopgestaan vir vreemde mense. Hulle hoef nog nooit buite te geslaap het nie.

33. Ek het ook nie die verkeerde goed wat ek al gedoen het soos ander mense probeer wegsteek nie.

34. Ek was nie bang vir die massas mense of die minagting van my familie nie. Dit het ook nie gemaak dat ek stilgebly het oor wat ek gedoen het nie of dat ek bang was om uit my huis uit te gaan nie.

35. “Ag, ek wens ek het iemand gehad wat net na my kant van die saak wou luister! Ek sal my handtekening gee om te bevestig dat ek die waarheid praat. Die Here moet my nou maar antwoord en sy klag teen my laat neerskryf.

36. Ek sal dat almal weet wat die klag teen my is. Ek is nie skaam om dit vir almal te wys nie.

Lees volledige hoofstuk Job 31