Ou Testament

Nuwe Testament

Job 29:1-14 Die Boodskap (DB)

1. Job het verder gegaan om sy saak te stel en gesê:

2. “Ag, hoe verlang ek na die dae en maande toe die Here nog vir my gesorg het.

3. Toe was Hy by my soos ’n lig wat skyn. Omdat Hy dit vir my lig gemaak het, kon ek veilig in die donker loop.

4. Vroeër in my lewe was God soos ’n huisvriend vir my,

5. want toe was die Here nog by my, en my kinders om my.

6. Dit was ’n tyd van oorvloed. Daar was ’n oormaat melk en die olie het by die groefies van die pers uitgestroom.

7. “Dit was nog die goeie ou dae toe ek nog na die stadsingang toe gegaan het. Daar het ek tussen die leiers van die mense gaan sit.

8. Van die jongmense het plek gemaak wanneer hulle my sien. Die ouer mense het selfs uit respek vir my opgestaan wanneer hulle my sien aankom het.

9. Wanneer ek iets gesê het, het die leiers stilgebly om na my te luister.

10. Die vername mense wat nog iets wou sê, het dan opgehou praat en nie verder hulle mening gegee nie.

11. “Almal wat my gehoor het, het net goeie dinge vir my te sê gehad. Die mense wat my gesien het, was tevrede met wat ek gedoen het.

12. Want ek het die armes gehelp wat gekla het. Ek het ook die weeskinders gehelp wat niemand gehad het om vir hulle te sorg nie.

13. Ek het mense gehelp wat al die hoop opgegee het om te lewe, en hulle het net mooi dinge oor my lewe te sê gehad. Ek het dit reggekry om weduwees weer te laat sing omdat hulle bly is.

14. Ek het reg geleef en mense eerlik en regverdig behandel. Ek het dit soos klere aangetrek en soos ’n band om my kop gesit.

Lees volledige hoofstuk Job 29