Ou Testament

Nuwe Testament

Job 21:16-28 Die Boodskap (DB)

16. Hulle dink dat dit hulle eie prestasie is dat dit so goed met hulle gaan. Ek hou niks van hulle manier van dink nie.”

17. Job het nog verder gesê: “Die slegte mense het al hoeveel keer rampe oorleef. Hulle is selde in die moeilikheid of kry selde wat hulle verdien as God in sy woede straf uitdeel.

18. Dit gebeur ook nie baie dat hulle soos strooi deur die wind rondgewaai word nie. Hulle word ook nie soos kaf deur stormwinde weggewaai nie.

19. “Julle sê dat God die kinders straf vir die dinge wat hulle ouers verkeerd gedoen het. Maar God behoort die mense te straf wat die verkeerde dinge gedoen het. Hulle moet self die straf voel, nie hulle kinders nie.

20. Hulle moet hulle eie ondergang self beleef. Hulle moet die woede van die Here self voel.

21. Want as hulle eers dood is, gee hulle nie om wat met hulle familie gebeur nie.

22. “Daar is tog niemand wat vir God iets kan leer nie. Hy oordeel dan selfs oor mense in hoë posisies.

23. Hoe regverdig is dit? Met party mense gaan dit goed totdat hulle doodgaan. Hulle leef gemaklik sonder dat enigiets hulle pla.

24. Hulle lyk baie gesond en vol energie.

25. Ander, weer, gaan as verbitterde mense dood. Hulle het nooit iets van die lekker van die lewe geniet nie.

26. Die waarheid van die saak is dat albei hierdie soorte mense in die graf beland en deur wurms vernietig word.”

27. Job het vir sy vriende gesê: “Ek weet hoe julle dink. Ek weet ook watse argumente julle teen my gaan gebruik om my skade aan te doen.

28. Julle sal sê: ‘Wat het van die huise van die belangrike mense geword? Waar is die blyplekke van die slegte mense heen?’

Lees volledige hoofstuk Job 21