Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 60:11-20 Die Boodskap (DB)

11. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek.

12. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn.

13. Die beste hout uit die Libanon sal na Jerusalem gebring word. Sipres-, plataan- en dennehout sal gebruik word om my tempel mooi te maak. Ek sal die plek waar Ek aanbid word, mooi laat maak.

14. Die volke wat jou onderdruk het, sal by jou kom verskoning maak. Almal wat op jou neergesien het, sal onderdanig wees en by jou voete kom kniel. Hulle sal jou noem: Stad van die Here, en: Sion van die heilige God van Israel.

15. Jy was vroeër ’n eensame en verlate plek waarby niemand wou kom nie. Ek maak jou nou ’n pragtige plek wat een geslag mense na die ander graag wil besoek.

16. Nasies sal vir jou gee wat jy nodig het. Konings sal jou soos ’n ma versorg.Jy sal dan besef dat dit Ek, die Here, is wat jou verlos het. Die magtige God van Jakob het jou vrygemaak.

17. Ek sal sorg dat jy goud kry pleks van koper. In die plek van yster sal Ek jou silwer laat kry. Koper sal in die plek van hout kom en yster in die plek van klip. Ek sal vrede oor jou laat regeer. Geregtigheid sal jou leier wees.

18. Daar sal nie weer van geweld in jou land gehoor word nie. Verwoesting en vernietiging sal nie meer in jou gebied voorkom nie. Die mure om jou stad sal jou beskerm. Jy sal met vreugde by jou poorte kan in- en uitgaan.

19. Jou lig sal gedurende die dag nie meer van die son af kom nie. Jy sal nie meer afhanklik wees van die maan wat in die nag skyn nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees. Jou God sal oor jou skyn.

20. Jou dae van hartseer is verby. Jou son sal nooit ondergaan nie. Jou maan sal nooit donker word nie. Die Here self sal vir altyd jou lig wees.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 60