Ou Testament

Nuwe Testament

Jesaja 60:1-12 Die Boodskap (DB)

1. Staan op, Jerusalem, dat jy lig kan gee vir die wêreld. Die Here is by jou. Hy maak jou soos ’n lig wat skyn in die wêreld.

2. Dit is donker in die wêreld. Daar is duisternis onder die volke. By jou laat die Here dit egter lig wees. Hy is by jou. Hy maak lig vir jou dat jy ook ’n lig kan wees.

3. Die nasies kom na jou lig toe. Die konings van die wêreld kom na die helder lig wat by jou skyn.

4. Kyk ’n bietjie wat besig is om reg rondom jou te gebeur. Jou mense begin bymekaarkom om terug te kom huis toe. Jou seuns kom van ver af terug. Jou dogters word aangedra terug na jou toe.

5. Wanneer jy sien wat gebeur, gaan jy van blydskap straal. Jou hart sal opgewonde begin klop.Die seehandelaars sal met jou begin besigheid doen. Die rykdom van die wêreld sal na jou toe begin vloei.

6. Lang karavane van kamele sal uit Midian en Efa op jou toesak. Hulle sal uit Skeba aankom met goud en wierook om die Here te aanbid.

7. Jy kan die kleinvee van Kedar en die bokramme van Nebajot gebruik soos jy wil. Jy kan hulle enige tyd op die altaar vir die Here kom offer. Hulle is ’n aanwins vir sy tempel.

8. Wat is dit wat soos wolke hier aangesweef kom, soos duiwe wat terugkom hok toe?

9. Dit is die skepe van die ander lande wat jou kinders weer huis toe bring. Vooraan is die skepe van Tarsis. Hulle is gelaai met goud en silwer om die Here jou God, die groot God, te vereer. Hy wil sy volk in ere herstel.

10. Buitelanders sal jou mure weer opbou. Hulle konings sal vir jou werk. Toe Ek vir jou kwaad was, het Ek jou gestraf. Noudat Ek jou jammer gekry het, sal Ek weer vir jou goed wees.

11. Jou stad se hekke sal dag en nag oopstaan sodat die nasies se rykdom daardeur na jou kan inkom. Hulle sal nooit gesluit word nie sodat die konings julle enige tyd kan kom besoek.

12. Die nasies en die koninkryke wat weier om vir julle te werk sal vernietig word. Daardie nasies sal verdwyn.

Lees volledige hoofstuk Jesaja 60